News

Bulhond Gerrie Nel pak polisie oor hangende sake, verdagtes wat vry loop

“Bulhond” advokaat, Gerrie Nel, wat aan die hoof van Afriforum se privaatvervolgingseenheid staan, het die week bevestig dat die eenheid kyk na privaat vervolging in drie hangende Middelburg sake, een van moord en twee van strafbare manslag.

Die eenheid het die volgende sake onder hersiening:

• Die April 2018 skietdood van mnr. Gerhard Coetzer. Mnr. Coetzer is in die teenwoordigheid van sy vrou en seun doodgeskiet tydens ’n partytjie by ’n huis in Walter Sisulustraat.

Mnr. Gerhard Coetzer se liggaam in die tuin waar hy inmekaar gesak het toe hy by ’n partytjie geskiet is.

Die polisie het tot vandag toe nie ’n verdagte geïdentifiseer nie, hoewel talle getuies in die ondersoek beweer het dat een van die partytjiegangers met ’n wapen gespeel het, voordat twee skote afgevuur is, waarvan een mnr. Coetzer in die kop getref het.

Lees ook: Ondersoek ’n verleentheid vir polisie

• Die Oktober 2018 dood van me. Alet Herbst en haar huishulp Linda Lukele in ’n gru-botsing op die N11. Die polisie het versuim om verklarings by ’n ooggetuie te neem.

Inligting dat die vrou wat die ongeluk veroorsaak het, voor die botsing by ’n plaaslike kroeg gesit en kuier het, en haar kroegrekening met haar debietkaart betaal het, is na bewering nooit opgevolg nie.

Die ongelukstoneel waarin me. Alet Herbst en haar jarelange huishulp Linda Lukele dood is.

Naas die strokie van betalingsbewys, was die vrou ook na bewering op CCTV kameras in die kroeg opgeneem voor die ongeluk.

Lees ook: Vrou sterf as held nadat sy dogter uit pad stamp

• Die Maart 2019 dood van me. Lizel Visagie wat voor haar tienerdogter deur ’n beweerde dronkbestuurder doodgery is. Me Visagie se dogter het die ongeluk oorleef, nadat haar ma haar betyds uit die BMW se pad gestamp het.

Die bestuurder van die BMW, Khumbulani Malinga, moes deur omstanders platgeduik word, toe hy probeer vlug het na die botsing. Hy was in ’n jaagtog met verkeersmanne betrokke toe hy me. Visagie raakgery het. Sy is so hard gestamp dat een van haar bene in die ongeluk afgeruk is.

Advokaat Nel sê dat briewe reeds aan die plaaslike polisie gestuur is vir ’n vorderingsverslag rakende die ondersoeke.

Die hersienings van die sake deur die privaatvervolgingseenheid is deur die slagoffers se families aangevra.

Die toneel waar me. Lizel Visagie voor haar tienerdogter deur ’n beweerde dronkbestuurder dood gery is.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Gerhard Rheeder

I have been a journalist for two decades, with numerous awards to my credit, both in photography and writing. A brief stint as researcher in the opposition offices of the Mpumalanga Provincial Legislature, honed my skills as specialist local government reporter, covering crime and courts.
Check Also
Close
Back to top button