News

Oupa krok dood weens nette

Hy was tussen 80 en 90 jaar oud, ’n oupa van 5.08 meter wat floreer het in die waters van die Flag Boshielodam.

Maar toe kom die mens en hulle kiefnette en hengel in die dam. Oupa krok het nie net gesmul aan die dam se ryk visbevolking nie, maar het ook die nette ingekry, wat uiteindelik sy dood veroorsaak het.

Die reuse ou krokodil se dood wys watter vernietigende impak die wettiging van kiefnette kan hê. Daar is die afgelope paar maande sterk sprake dat nethengel in varswaterdamme toegelaat gaan word.

Mnr. Rikus Muller, van Ermelo, het saam met vriende gaan hengel by die dam toe hulle op die dooie krokodil afgekom het.

Martin Theunissen, van Makhado, het saam met mnr. Muller na die krokodil gaan soek.

“Die krokodil was te groot om tot op die wal te trek,” sê mnr. Muller.

Hulle het foto’s geneem en die krokodil terug gesleep diepwater toe.

Die Mpumalanga Parkeraad het ook na die krokodil gaan soek in die hoop om die oorsaak van sy dood te bepaal.

Mnr. Hannes Botha, ‘n herpetoloog wat spesialiseer in die bewaring en beskerming van krokodille, sê dat monsters van die krokodil se vet geneem is.

Die einde van ’n reus weens die roekeloosheid van die mens.

“Ons het ook die krokodil se maag oopgesny en ‘n groot bondel net in sy maag gekry. Die krokodil kon nie die net verteer nie en is waarskynlik daarvan dood,” sê mnr. Botha.

Die gebruik van alle nette, behalwe ‘n skepnet, in damme is onwettig.

“Kiefnette is baie vernietigend en alles wat daarin verstrengel raak gaan dood,” sê mnr. André Hoffman, ‘n rivierekoloog van die Mpumalanga Toerisme en Parke Agentskap se akwatiesebewaringseenheid.

“Dit help ook nie net om die nette te verwyder nie. Die mense wat die nette stel moet gevang word en dìt is ‘n moeilike proses, maar kan gedoen word. Ek het dit al by Flag Boshielodam gedoen, deur Limpopo Natuurbewaring te bel en by die net te wag. Ongelukkig neem dit ongeveer vier tot vyf ure van wag,” sê mnr. Hoffman.

Mnr. Botha skat die manlike krok tussen 80 en 90 jaar oud. Hy was 5.08m lank.

Die dam is bekend vir sy groot krokodille.

Nette in damme raak ’n al groter probleem met die Middelburgdam wat ookal onder nethengelaars deurgeloop het.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Janine Saayman

Janine has been working as a journalist/photographer since 2014 at the Daller in Groblersdal. She was awarded the O.H. Frewin Upcoming Journalist of the Year in her first year as a journalist. Janine has a passion for photography, writing, being creative and doing things to the best of her ability.
Back to top button