News

Skuldig na tandmerke op heuningwas

Kol. Danie Hall (bevelvoerder, Ernstige Korrupsie-eenheid, Valke) het kaste vol plakboeke met koerantberigte wat vertel van die suksesverhale van die destydse moord-en-roof-eenheid.

Ondersoekwerk is in sy bloed

Kol. Danie Hall (bevelvoerder, Ernstige Korrupsie-eenheid, Valke) het kaste vol plakboeke met koerantberigte wat vertel van die suksesverhale van die destydse moord-en-roof-eenheid.

Hy het in 1985 begin as jong polisieman en was sedert 1988 ’n speurder. Kol. Hall vertel dat hy en Koos Fourie die stigterslede was van die Secunda moord-en-roof eenheid.

“Ons het daar aangekom met ’n Telstar kar en die tak gestig. Ek was van Ermelo en hy van Piet Retief en het ons eie mense gewerf.” Kol. Hall was destyds tweede in bevel en het by Koos oorgevat toe hy bedank het.

Hy word die moord-en-roof bevelvoerder op Secunda en later provinsiale bevelvoerder ernstige geweldmisdaadeenheid, Moord-en-roof het later ernstige geweldmisdaadeenheid geword.

Toe ook hierdie eenhede ontbind, is almal na verskillende stasies toe gestuur. Na hierdie ontbinding, was kol. Hall later provinsiale koördineerder van die destydse kinder beskermings eenhede, daarna vir 18 maande by die Witbank speurtak en is toe Valke toe in Middelburg.

Hy was ook op ’n stadium ’n gyselaarsonderhandelaar gewees. Kol. Hall sê dit is ’n eer om te kan sê dat hy deel was van die destydse moord-en-roof span.

“Ek sukkel soms nog om die bestuurswerk gewoond te raak en is ek nog steeds besig met hofsake van ondersoeke. Ek bly ’n ondersoeker, dis in my bloed.” Terwyl hy deur die plakboeke van koerantuitknipsels blaai, vertel hy van die sake wat hy nooit sal vergeet nie.

Kol. Danie Hall.

Die dispuut oor die opname

• Mduduzi Nkosi is vasgetrek na ’n moord en kol. Hall onthou dat kapt. Breedt hom gebel het. Hy was toe al by die Valke gewees en Nkosi wou ’n bekentenis aflê.

Nkosi het sy bekentenis in Afrikaans gedoen en tydens die verhoor was daar ’n dispuut omdat Nkosi kwansuis nie Afrikaans kon praat nie. Maar ongelukkig vir hom, was daar die opname…

Die berig oor Mduduzi Nkosi wat in die Middelburg Observer verskyn het.

Die aanval by die Royal Hotel

• Die saak waar toeriste aangeval is by die Royal Hotel, waar kol. Hall die ondersoek gekoördineer en Manie van Zyl die ondersoekbeampte was, is binne 42 dae afgehandel. “Ek dink dit was ’n rekord, want in daardie paar dae is die skuldige ook gevonnis!” ’n Negentienjarige gholfjoggie is later skuldig bevind.

Die aanval by die Royal Hotel.

Skuldig na byt op heuningwas

• Dan was daar die moord in Piet Retief op die heuningboer en het hulle tandmerke gekry waar die booswigte aan die heuningwas gebyt het. Dit het gelei tot hul skuldigbevinding.

• Hy onthou ook dat hulle in Greylingstad ’n entomoloog gebruik het nadat ’n man weggeraak het in die Oos Rand.

“Dit was eintlik twee verskillende sake, Oos Rand het een saak hanteer en ons het die ander saak waar die lyk gekry is op ’n plaas in Greylingstad.”

Kort daarna het die beeste ’n lyk oopgetrap in ’n voetpaadjie waar die beeste loop op die plaas in Greylingstad.

“Ons het op daardie stadium niks gehad nie.” Die lykskouing is gedoen deur ’n professor, want die oorskot was van so ’n aard dat hulle die gesig moes laat opbou. Goggas wat aan die lyk gevreet het is versamel en vir ’n entomoloog gegee om vir hulle te bepaal hoe lank hy al dood is.

“Toe kom ons agter dat die ou wat as vermis aangegee is in die Oos Rand, het gesteel by die boer en hy is vermoor!” Toe hy die foto’s gaan trek op sy bestuurslisensie, het hulle dit met forensies gepas by die skedel as dieselfde persoon.

Die entomoloog se tydsbepaling van die dood ten opsigte van die goggas, het ingepas met die tyd wat die persoon weggeraak het. Die Oos Randse polisie het die dossier oorgevat en die persoon wat die moord gepleeg het, is later skuldig bevind.

• Die welbekende transitorower, Colin Chauke, was landwyd in die 80’s gesoek en is later deur Nelspruit moord-en-roof gearresteer.

“Genl. Busi Engelbrecht het nog belowe dat hy voor Kersfees daardie jaar gearresteer sal wees en die media het hom daarvoor aanspreeklik gehou. Hy is binne ’n paar dae gevang.”

• ’n Fransie televisiespan het onlangs na Suid-Afrika gekom om ’n realiteitsopname te maak oor die “Saloon killer”, Velaphi Ndlangamandla, wat in 1987 talle mense met ’n .22 afgemaai het in Piet Retief.

Die ondersoekspan is destyds deur die regter geluk gewens met hul puik ondersoekwerk om hom vas te trek. ’n Paar van die slagoffers se familielede is destyds opgespoor met die hulp van ’n burgemeester en kon hulle die hofverrigtinge bywoon.

Die berig nadat familielede die saak bygewoon het.

Polisieman was deel van Zondo bende

• Daar was ook die Zondo bende op Secunda waar ’n polisieman saam met die ander tronk toe is vir transitorowe.

Die Zondo saak.

Bejaardes in huis doodgebrand

• As daar iets is wat hom nog altyd omgekrap het, was dit die wreedheid om ou mense te verniel. Die geval waar die bejaarde man en vrou op ’n plaas vermoor is, sal hom altyd bybly Hulle is aangeval deur minderjarige rowers. wat tydens die aanval gasbottels in die huis ingedra het, die gas oopgemaak het en van buite af vuurhoutjies ingeskiet het.

“Hulle het doodgebrand in die huis. Dit is so sinneloos. Dis iemand se oupa en ouma en dis verskriklik om so dood te gaan. Niemand het daarna weer op die plaas geboer nie.”

Die hondemeester van Volksrust het hulle gehelp om die skuldiges binne ’n dag of twee te arresteer. En wat so hartseer was, is dat al drie moordenaars “nog self net kinders was.” Die beskuldigdes was 20, 19 en 15 jaar oud ten tyde van die moorde.

Die berig oor die bejaarde egpaar wat in hul huis doodgebrand het nadat hulle aangeval is,

Man erken hy het vrou vermoor

• Die koerantberig sê: “Man beken in hof hy het sy vrou vermoor,” was vir hom ’n baie interessante saak.

Die bejaarde man het eers sy vrou geskiet en toe homself, maar bly leef. Hy het aanvanlik vir die polisie gesê dat dit ’n aanval was. ’n Paar goed op die toneel het egter nie vir die polisie sin gemaak nie.

Die wapen, die man se eie wapen, is op die toneel gelos.

“Watter aanvaller los ’n wapen?”

Toe hy uit die hospitaal kom, na ’n lang hersteltydperk, want hy het homself twee keer onder die ken geskiet, is poligraaftoetse gedoen, wat gelei het tot ’n bekentenis.

Volgens kol. Hall was dit die eerste saak in die Suid-Afrikaanse Regsgeskiedenis waar ’n persoon aangekla is nadat hy aan ’n leuenverklikkerstoets onderwerp is.

Hy het in sy bekentenis gesê dat sy vrou hom vertel het van ’n verhouding met sy pa en dat hy twee kinders by haar verwek het. ’n Stryery het ontstaan en hy het haar geskiet. Sy het nooit vir hom gesê watter twee kinders nie. Nadat hy haar en toe homself geskiet het, het hy later besef hy moet iets sê daaroor en toe die storie opgemaak. Weens sy geestelike toestand is hy nooit tronk toe nie.

Die berig oor die bejaarde man wat erken het dat hy sy vrou vermoor het.

Afkopmoorde was baie erg

• Die afkopmoorde, wat hulle vermoed mutimoorde was, op Delmas sal hy ook nie vergeet nie. Daar is eers drie koppe, waaronder kinders, in ’n rivier gekry.

Ou mediaberigte het egter gesê dat die koppe en lywe nie van dieselfde mense was nie. ’n Ruk later is nog ’n vrouelyk in ’n mielieland gekry en kon hulle die moordenaars positief verbind met DNA na aanleiding van stompies wat op die toneel gekry is en mense wat die skuldiges saam met die slagoffer gesien het.

Leoni Ras, van die polisie se forensiese eenheid, het gehelp met die saak. Die ondersoek op die toneel het die deurbraak gemaak en die speurtak het hulle gearresteer.

Alhoewel hulle net skuldig bevind is aan die laaste saak en lewenslank tronk toe gestuur is, was al die polisielede oortuig daarvan dat hulle ook die ander persone vermoor het. Die beskuldigdes het egter hul swygreg gebruik en nooit gepraat nie.

Die kop van hierdie lyf is ook nooit gekry nie.

• ’n Interessante saak was ’n spesifieke verkragtingsaak waar hulle op die klein dorpie die hele dorp se DNA gevat het en so die skuldige vasgetrek het.

• Daar was ook die lyk van die Bethlehemiet wat langs die pad doodgeskiet is, nadat sy voertuig onklaar geraak het. Die verdagte is dieselfde dag gevang, nadat die tou waarmee hy die oorledene vasgemaak is, by hom gekry is.

Forensiese toetse het gewys dat die tou dieselfde tou was. Hulle het ook die oorledene se selfoon by hom gekry.

Die berig oor die persoon van Bethlehem wat langs die pad vermoor is.

Hondeman doodgeskiet

• Hy het ook ’n spesifieke voorval onthou van ’n lid van die honde-eenheid, sers. Johan Sonnekus, wat doodgeskiet is. Kol. Hall onthou hoe goed hulle oor die weg gekom het. Hy was ook ’n draer by sers. Sonnekus se begrafnis. “Hy is uitgeroep na ’n rooftoneel en doodgeskiet. Hy was so ’n ordentlike polisieman.”

Die berig oor die polisieman wat tydens ’n rooftog doodgeskiet is,

Hele dorp se vingerafdrukke gevat

• Nog ’n suksesverhaal was die Wakkerstroom-saak, waar ’n bejaarde vermoor is. Daar is vingerafdrukke van die moordenaar op die toneel gekry.

Op daardie selfde dag het die provinsiale kommissaris van destyds, kommissaris, Denn Alberts, hulle toegespreek. Adj. Jan Hattingh het die moord ondersoek en iemand in sy spanhet besluit dat hulle die hele dorp se vingerafdrukke gaan vat.

Die plaaslike kriminele rekordsentrum en selfs lede van die kommando is opgekommandeer om vingerafdrukke te help vat.

“Sommer tussen die eerste paar mense wie se vingerafdrukke ons geneem het, is die skuldige vasgetrek.”

Nog voordat kommissaris Alberts na sy toespraak weer by sy tuisdorp in Secunda aangekom het, het hulle hom laat weet dat hulle die skuldige op vingerafdrukke positief verbind het.

Polisiemanne vereer vir hul harde werk.

Die saamwerk as ’n span

“Dis sulke dinge wat jy van die span onthou. Ons het as ’n span gewerk, as ons op ’n saak begin werk het, het ons nie geslaap nie. As groot sake ingekom het, het die hele tak gewerk. As jy inligting kry, dan ry jou soontoe, maak nie saak of dit in Soweto is nie.”

Hulle het gereeld 24 uur aanmekaar gewerk aan ’n saak.

“As ons begin hardloop het, het ons gehardloop, daar was nie stories gewees nie. Ons sake is nooit teruggetrek nie. Elke lid was trots op sy werk.”

• Hy meld verder dat die samewerking tussen die moord-en-roof lede, die plaaslike rekordsentrum en speurders uitstekend was. “Ons het ook goeie beriggewers gehad, wat met bykans elke saak gehelp het om die skuldiges vas te trek.”

• Die ou moord-en-roof lede hou steeds kontak met mekaar op ’n geslote Facebookgroep.

Nog ’n skuldigbevinding.
Hul suksesse was legio.
Daar was gereeld berigte in koerante oor moord-en-roof se suksesse.
Moord-en-roof het ook die saak opgelos.
Nog ’n polisieman wat met sy lewe moes boet.
Dis hartseer sake soos hierdie wat hulle moes ondersoek.
Hul ondersoekwerk het nooit opgehou as hulle eers ’n saak gevat het nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button