Veediefstal ’n kruitvat wat wag om te ontplof
Die moord van Brendin Horner in die Vrystaat, het opnuut die kollig geskyn op wat gebeur wanneer misdaadsindikate toegelaat word om te floreer. Die Hornermoord se verband met veediefstal is nie ’n geïsoleerde geval nie en die stories wat deur boere in ander provinsies vertel word, is dieselfde, net die karakters verskil.
Stories van bekende misdadigers wat die lang arm van die gereg net te maklik ontduik, korrupte polisielede, lakse howe en oorvol tronke.
•Boere langs die R555 (Stoffbergpad) word tans geteister deur misdaadbendes wat beeste lewendig laai of sommer in die veld slag. Een boer het in een week vier beeste verloor, een daarvan ure nadat hulle in dieselfde area patrollie gery het.
Daar word nou opnuut planne gemaak, soos die aanstel van ekstra beeswagters wat in die aande na die beeste moet kyk asook om opsporingsnekbande vir beeste aan te sit wat alarm maak as die trop gesteur word. Dit kos boere derduisende rande.
Die sindikate is nou al so vreesloos, dat hulle tot beeswagters dreig om hulle uit die voete te maak of hulle word vermoor. Twee boere het vertel hoe hulle wagte oornag gevlug het. In een geval is die wag so vinnig uit sy karavaan weg, dat sy kos nog half geëet op die tafel gestaan het. Hy het al sy klere net so gelos.
•In 2016 is David Lalenda koudbloedig doodgeskiet terwyl hy geslaap het. Hy het vee in die Blinkpanomgewing opgepas.
•Sekere lede van die Dullstroom gemeenskap is vas oortuig dat veediefstal die uiteindelike rede vir Sue Howarth se moord op die plaas Marchlands was. In die moordverhoor, wat in die Breyten Hooggeregshof aan die gang is, het Nkosinathi Yika getuig hoe hy en sy mede-beskuldiges in die moordsaak, in die Belfasthof was vir ’n ander hofsaak toe hulle gearresteer is. Die ander hofsaak was ’n veediefstalsaak. Sue se geliefdes het ook vertel dat sy voor haar dood een van haar werkers as gevolg van veediefstal afgedank het. Hy is glo ’n familielid van een van die moodverdagtes.
•In die Belfast omgewing ken boere die verdagtes wat by veediefstalsindikate betrokke is, by name. Een boer het al tot so ver gevorder dat hy lede van die sindikaat met behulp van ’n privaat speurder op heterdaad betrap en laat arresteer het. Maar dis nie lank nie dan is hulle weer terug op straat.
•Boere in die omgewing is dit eens dat daar korrupte polisiemanne betrokke is wat die geveg teen veediefstal nog moeiliker maak. In een voorval het ’n beplande operasie, om veediewe met die hulp van ’n informant voor te lê, deur die mat geval die oomblik toe ’n boer die polisie in kennis gestel het van die operasie. Die informant het kort daarna laat weet die diefstal afgestel is, omdat hul bron in die polisie laat weet het die boere wag vir hulle.
•’n Betroubare bron het aan www.mobserver.co.za gesê dat daar met die mees onlangse vrylating van gevangenes, talle gesoute veediewe is wat weer op vrye voet loop. FOTO’s: Veeslag1J, Sue Howarth, Brendin Horner