News

Innibos 2020 gekanselleer

Die Standard Bank Innibos Kunstefees wat van 16 tot 20 Desember in Mbombela (Nelspruit) sou plaasvind, is gekanselleer.

Die voortslepende onsekerheid weens die verlenging van die Covid-19-ramptoestand en die invloed daarvan op die hou van groot byeenkomste ingevolge die regeringsregulasies, het dié besluit deur die Innibos-direksie in oorleg met die naamborg, Standard Bank, genoodsaak.

Andy Lubbe, feesbestuurder van Innibos, sê dit is ’n hartseer maar realistiese besluit.

“Innibos was slaggereed om ondanks talle uitdagings die kunstefees te hou. Die risiko blyk eindelik net té groot te wees, en die onsekerheid kan nie onbepaald voortduur nie. Ons is ’n klinkklare besluit verskuldig aan al ons lojale feesvennote.”

Lubbe sê die Covid-19-pandemie het ongekende uitdagings voor kunstefeeste se deur geplaas en het verreikende gevolge.

“Buiten die verlies aan inkomste vir van kunstenaars tot diensverskaffers, ly die plaaslike ekonomie ook skade. Verlede jaar was die ekonomiese impak van Innibos sowat R82 miljoen. Ons is tans dalk effe moedeloos, maar beslis nie op moedverloor se vlakte nie en spring reeds weg met die beplanning vir 2021 se kunstefees.”

Die voorlopige datum vir Innibos 2021 is 30 Junie tot 4 Julie.

Feesgangers wat reeds toegangskaartjies gekoop het, kan om ’n terugbetaling vra by Computicket.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Back to top button