News

‘Voetsek’ dief!

’n Paar vroue, wat in die straat gestaan het, het “voetsek!” geskree toe ’n dief met sy buit in Gholfsig teen die berg ophol.

Die dief het later sy buit laat val in sy pogings om weg te kom van ’n reaksielid van CSC Tactical. Reaksielid Louis Zietsman vertel dat hy gister op die Zello-kanaal gehoor het hoe ’n lid van die Gemeeenskapspolisiëringsforum vir bystand vra in Totiusstraat, Gholfsig.

Hy het soontoe gejaag, waar hulle hom meegedeel het dat daar ’n DVD-speler en klanktoerusting by ’n kuierarea aan die agterkant van ’n huis in Totiusstraat gesteel is. Daar is gesê dat die dief oor die berg in die rigting van Mhluzi gevlug het.

Mnr. Zietsman het gery tot by die torings op die berg, waar hy van bo af kon sien, dat die dief met die gesteelde goed in sy arms, teen die berg afhardloop na Mhluzi se kant toe.

Die DVD-speler en klanktoerusting wat die dief laat val het.

Hy het gery tot waar hy nie kon nie en die boef te voet agterna gesit.

Met die reaksielid kort op sy hakke teen die berg af, het die dief besef hy kan nie aanhou hardloop met alles in sy arms nie, waarop hy dit neergegooi het.

Mnr. Zietsman het vir ’n oomblik gestop om te kyk waar die toerusting neergegooi word, wat die boosdoener net daardie klein entjie voorsprong weer gegee het.
Hy het oor Beyers Naudestraat gehardloop en tussen die huise in verdwyn by die ingang van Uitbreiding 1 en 3 in Mhluzi.

Mnr. Zietsman is agterna en het tussen die huise gesoek tot by Mandelastraat, waar hy besef het dit is ’n onbegonne taak om in elke erf te soek. “Hy moes iewers gaan skuil het.”

Die DVD-speler en klanktoerusting is terugbesorg aan die eienaar.

https://vimeo.com/470534006

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button