News

Boer veg lang geveg teen onwettige myn

’n Plaaslike boer het uiteindelik daarin geslaag om ’n myn, wat verlede jaar Oktober oornag op sy plaas ontstaan het, se bedrywighede tot stilstand te dwing.

Stinus Breedt het verlede jaar aan www.mobserver.co.za vertel hoe hy een dag in Julie skielik bewus geraak het van mynbedrywighede op sy plaas, nadat iemand by hom wou weet of hy sy plaas aan ’n myn verkoop het.

Dit was Lunati Mining van wie die eienaar, Eugene Mahlangu, is. Mnr. Breedt het destyds vertel dat Lunati volgehou het dat hulle in besit van die regte permitte is, maar het dit nooit aan hom getoon nie.

Daar is destyds berig hoe inspekteurs van die Departement Waterwese sowel as van die Departement Minerale en Energie talle male na die myn ontbied is.

Nadat departementele inspekteurs mnr. Breedt nie kon help nie, het hy hom tot die howe gewend. Sy dringende hofaansoek in November, voor regter Hein Brauckman, was onsuksesvol en is met kostes afgekeur.

Daar moes daarna gewag word vir ’n hofdatum wat verder vertraag is deur die Covid-19 pandemie wat siviele sake in howe byna heeltemal tot stilstand gebring het.

Destydse projekbestuurder by die myn, Dana Stoltz, het na die November hofsaak gesê die aansoek is afgekeur omdat hulle hul kant van die saak met dokumente kon bewys. Hy het ook beweer dat Lunati Mining 70% van Hlelo Mining besit, wat aan ’n voormalige DME werknemer behoort. Hlelo het ’n prospekteerpermit vir ’n gedeelte van die grond gehad.

Mnr. Stoltz het aangevoer dat hulle nie op ’n gedeelte van die plaas myn nie, maar slegs toetsmonsters uithaal om die koolsoom te toets. Mnr. Breedt se regsverteenwoordiger, Riaan Jacobs, het dit betwis en gesê dat daar op groot skaal steenkool uitgehaal en verkoop word.

In Maart vanjaar het baie reën veroorsaak dat die myngat toespoel. Isabella Scot, wat sê dat sy vir Lunati Mining werk, het beweer dat hulle weer met mynbedrywighede gaan begin sodra die terrein herstel is. Sy het destyds onderneem om www.mobserver.co.za in kontak met mnr. Mahlangu te bring, maar toe nooit weer haar foon geantwoord nie.

Die mees onlangse uitspraak in die Middelburg Hooggeregshof, was egter ’n heel ander storie. Regter Herman Barnardt het in sy uitspraak gesê dat Lunati Mining verantwoordelik was vir die onwettige mynbedrywighede.

Lunati Mining is beveel om die area op Bosmanspoort te rehabiliteer.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Jana Boshoff

Jana works as a senior support specialist for Caxton digital. Before that she was a journalist at the Middelburg Observer 15 years where she won numerous awards including Sanlam's Up and Coming Journalist, Caxton Multimedia Journalist of the Year, and several investigative awards. She is passionate about people and the stories untold.
Back to top button