Gesin se vakansie in weegskaal na karavaanongeluk
’n Gesin se vakansie hang in die weegskaal nadat hulle karavaan hierdie week, terwyl dit gestuur is vir ’n diens, in ’n ongeluk verwoes is.

Scharl Muller sê dat hulle Sondag na die Bosveld Oasis buite Brits sou vertrek. Hy het hul karavaan ingestuur vir ’n diens om seker te maak dat daar niks verkeerd gaan op pad en terug van vakansie nie.
Die ongeluk het plaasgevind nadat die karavaan klaar gediens was en vir ’n toetsrit geneem is.
Mnr. Muller sê dat hy vermoed sy Fleetline karavaan is afgeskryf.
Lees ook: Meyer Street traffic interrupted following caravan collision
“Ek weet nie hoekom nie, maar die man het net nie gestop nie. Miskien was hy moeg of miskien was hy op sy foon. Die karavaan is vier meter ver gestoot van waar dit oorspronklik gestaan het,” het mnr. Muller gesê.
Die Muller gesin skarrel nou om ’n ander karavaan in die hande te kry sodat hulle nie hul reeds betaalde vakansie verloor nie.
“Die ongeluk was volgens my glad nie die karavaanplek se skuld nie. Dit lyk tog of hulle my gaan probeer help met ’n karavaan al is dit nie hul verantwoordelikheid nie. As ek nou ’n karavaan moet gaan huur sal dit my ’n ekstra R700 ’n dag kos.”
