Deurbraak in Papapavlou moord lei tot arrestasie
Die polisie met die hulp van Bosveld Misdaadondersoeke het ’n deurbraak in die Papapavlou moordondersoek gehad.
Raymond Papapavlou (28) is in sy huis op ’n plaas in die Rooikraalomgewing tussen Groblersdal en Stoffberg vermoor. Sy vrou Simoné het na die voorval vertel dat sy op die bank voor die televisie aan die slaap geraak het en wakker geskrik het van geweerskote. Sy het self skote van die bank gevuur en toe om hulp gebel. Sakkie Louwrens van Bosveld Misdaadondersoeke het gesê dat hulle inligting van ’n beriggewer ontvang het oor die moord. Die inligting is opgevolg en die polisie het ’n Dinsdagmiddag ’n jong vrou in Kempton Park gearresteer. Sy was glo bevriend met die Papapavlou egpaar. Groblersdal polisiewoordvoerder, a.o. Stanley Magaela, het bevestig dat ’n 23-jarige vrou more in die Groblersdal Landdroshof sal verskyn. Die ondersoek duur steeds voort.
