Wieldiewe is terug!
Die boewe wat gedurende Augustus en September derduisende rande se wiele gesteel het in Kanonkop en Dennesig, is terug!
Mnr. Jacques le Roux het gisteroggend sy Toyota Hilux op plaveiselstene, wat uit sy eie erf in Manie Maritz (Dennesig) uitkom, gestaan. Al vier die 17 duim wiele is weg.
Hy meld dat dit R24 000 gaan kos om die wiele en allooiwiele te vervang.
Wat hulle dronkslaan, is dat hul sewe honde, wat in die agterkant van die erf was, glad nie geblaf het nie.
“Hulle was soos zombi’s gisteroggend en wou nie eers eet nie. Alhoewel hulle in die agterkant van die erf was, is die bakkie naby die area waar die honde deur die hek kan sien.”
Die egpaar vermoed die diewe het moontlik iets na die honde gespuit.
• Daar is verneem dat daar by ’n bekende besigheid op die dorp die afgelope maand drie stelle bakkiewiele gesteel is.
• By mnr. Gerhard Beukes (Impalastraat, Kanonkop) is drie van sy werksbakkie (ook ’n Toyota Hilux) se wiele gesteel. Die vierde wiel kon hulle nie afkry nie, omdat van die plaveiselstene gebreek en die bakkie laat val het.
Sy lewensmaat, Belinda Wolfaardt, se Jeepwiele is ook gesteel. Om die Jeep se wiele en allooiwiele te vervang, het R21 000 beloop en vir die bakkie R31 700.
• In dieselfde tyd is daar ook wiele van ’n voertuig af gesteel in Helen Josephstraat (Dennesig), Uitbreiding 24 en Rockdale.
• Net daarna het verskeie inwoners, waaronder in Loerie- en Sipresstraat laat weet dat hul plaveiselstene uitgehaal is om onder voertuie te sit om wiele te steel, maar die boewe is gepla en het geepad.
