‘Johanna’ weer van diefstal beskuldig
Die huishulp wat talle gesinne besteel en ook in die hof was, is na alle waarskynlikheid weer bedrywig in Dennesig.
Die gesin het blitsig die huishulp, wat vanoggend by hulle begin werk en twee selfone gesteel het, vasgetrek en hul selfone terug gekry. Maar haar ongelukkig laat wegkom.
Volgens die egpaar (wat verkies om anoniem te bly) het ‘Johanna’ gister by hulle kom aanklop vir werk in Bermudastraat (Dennesig, Middelburg).
“Ons het vir haar gesê dat sy vandag kan kom en dat sy net die sitkamer en kombuis hoef skoon te maak. Sy het maar net R60 gevra en het vanoggend gekom.”
Kort nadat sy fluks begin werk het, is die familie gou Kanonkop Spar toe.
Met hul terugkeer was “Johanna” én twee selfone skoonveld.
Hulle het dadelik in hul kar gespring en Dennesig platgery, opsoek na die die vrou.

In Harry Gwalastraat het hulle haar in die veld sien stap. “Sy het dadelik begin hardloop, maar ons het haar ingehardloop. Toe ons by haar kom het sy dadelik gesê: ‘sorry, sorry!’ en die fone aan ons oorhandig.”
Een van die selfone se simkaart was reeds uitgehaal.
Eers nadat hulle die vrou laat wegloop het, het hulle besef dat hulle haar aan die polisie moes oorhandig het.
Hul skok was nóg groter toe hulle ‘Johanna’ herken op fotos wat talle Middelburgers oor die afgelope vier jaar van “Johanna” op Facebook geplaas het.
“Dit is sy, beslis sy!” het die vrou uitgeroep toe sy die foto’s sien.
• In 2016 is daar al die eerste keer oor Johanna Sambu Ngwenya, wat haarself “Emma” ook noem, aangekla nadat huisware by mnr. en me. Shaun en Cindy Jardin weggeraak het.
Die afgelope vier jaar het talle mense laat weet dat hulle na ‘Johanna’ of ‘Emma’ soek, omdat onder andere kontant en ander artikels gesteel is.
Ngwenya is vir die soveelste keer vroeg in Januarie vanjaar weer aangekeer.
Van die klaers, waaroor berig is, sluit in:
• Me. Celeste du Toit het beweer dat Ngwenya in 2019 R1 000 by haar gesteel het op die twede dag wat sy by haar begin werk het.

• Me. Sune Zietsman sê dat Ngwenya in Oktober 2019 by haar begin werk het. Sy het die eerste dag goed gewerk. Die volgende dag is Zietsman 11:30 werk toe, toe haar verloofde 13:00 huistoe kom, was hul huis se deur en erf se hek oop en het goedere ter waarde van R800 saam met Ngwenya verdwyn.
• Volgens me. Angelique Chawner het Ngwenya op 31 Desember 2019 by hulle kom werk soek. Me. Chawner het ’n operasie gehad en haar huishulp was met verlof. Hulle het toe besluit om Ngwenya ’n kans te gee.
Nadat die gesin gou Middelburg Mall toe was, het hulle teruggekom om uit te vind dat Ngwenya en goedere met ’n geskatte waarde van R25 000 verdwyn het.
Sekuriteitskameras het gewys hoe Ngwenya verskeie items, waaronder luidsprekers, ’n skootrekenaar, klere en skoene vat.
Chawner het ‘n inskrywing op Middelburg Observer se Facebookgroep gemaak en is kort daarna gekontak deur iemand wat ‘n paar dae voor haar, ook na bewering deur Ngwenya besteel is, asook iemand wat laat weet het dat sy tans by haar werk.
Hulle is na die huis om Ngwenya te konfronteer. Chawner sê dat hulle ’n badsakkie, haar werknemers van daardie tyd se huissleutels en juwele in Ngwenya se besit gekry het.
•Hendrihette Vermaak sê dat Ngwenya in Desember 2019 by haar kom werk soek het. Sy het haar weggewys, omdat sy klaar ’n huishulp in diens gehad het.
Terwyl Ngwenya voor haar huis gestaan het, het die tuindienste opgedaag. Vermaak het haar honde agter die huis gaan toemaak en die hek oopgelos vir die tuindienste om hul gereedskap in te dra.
In die warboel het Ngwenya in haar huis ingeglip en na bewering twee selfone gevat.
• Almal is destyds polisiestasie toe om sake teen haar oop te maak. “Ons weet van daar af niks oor wat met haar gebeur het nie,” het me. Chawner destyds gesê.
Me. Vermaak het genoem dat Ngwenya alles ontken het en vir die polisie gesê het dat “hulle Nyaope rook en nie lekker in die kop is nie.”
Hulle het destyds uitgevind dat sy uit op parool was en dat haar parool op 2 Januarie 2020 klaar gemaak het.
• Die polisie se mediakantoor het tydens die vorige berigte bevestig dat Ngwenya uit was op parool toe sy in 2016 gearresteer is. Sy het in die hof verskyn en is vrygelaat op borg, maar is weer in 2017 gearresteer, nadat sy versuim het om vir haar hofsaak op te daag.
