News

Meer dronkes oor drankwet

Verskeie drankwinkeleienaars is vas oortuig dat die nuwe drankwet, wat tydens die huidige inperking heers, tot die skrikwekkende vlaag van dronkbestuurklagtes en ongelukke bydra.

Die huidige drankwet laat drankwinkels toe om van Maandae tot Vrydae hul deure tussen 09:00 en 17:00 oop te hê, maar glad nie op Saterdae en Sondae nie.

Sommige rolspelers meen nou, dat dit alkoholgebruikers noop om op naweke by restaurante, kroeë en sjebeens te gaan kuier, omdat hulle nie elders drank kan kry nie.

Dit is ook nie net dronkbestuurders wat ’n toenemende gevaar is nie maar ook dronk voetgangers.

’n Joernalis het die afgelope naweek eerstehands gesien hoe vallende dronk mense naby die hoek van Cowen Ntuli- en Lilian Ngoyistraat ’n gevaar vir hulself en vir verbygangers inhou.

Drie vallende dronk mans het binne meters van mekaar gestaan. Een het probeer om te ryloop en al wiegende in die middel van die linkerkantste laan gestaan, een het probeer om die straat oor te steek, maar het geval die oomblik toe hy van die sypaadjie na die teervlak probeer trap en ’n derde man het al strompelend met die hulp van sy kleinseun (’n laerskoolkind) die verkeerslig oorgesteek.

Nooddienste het voorheen laat weet dat die area ’n brandpunt word met talle voetgangerongelukke omdat motoriste dikwels nie die dronkes in die donker sien voor dit te laat is nie.

Een drankwinkeleienaar, wat anoniem wou bly, sê dat die huidige drankwinkel ure dit byna onmoontlik maak vir werkende mense om drank te koop, omdat hulle net weeksdae tussen 09:00 en 17:00 wanneer meeste mense by die werk is, mag sake doen.

“Ons word streng gepolisieër en moet aan dinge soos sosiale afstand gehoor gee. Werkende ouens wat nie in die week drank kon koop nie, gaan nou na oorvol kroeë en sjebeens en drink maar daar,” sê die eienaar.

• Daar is verneem dat daar al verskeie klagtes oor die area in Cowen Ntulistraat was, waar daar so baie dronk voetgangers is, by die polisie aangemeld is. Lede van die publiek word aangemoedig om brandpunte by die polisie aan te meld sodat die probleem aangespreek kan word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Jana Boshoff

Jana works as a senior support specialist for Caxton digital. Before that she was a journalist at the Middelburg Observer 15 years where she won numerous awards including Sanlam's Up and Coming Journalist, Caxton Multimedia Journalist of the Year, and several investigative awards. She is passionate about people and the stories untold.
Check Also
Close
Back to top button