Jonk, slim, sterk én vloek vieslik
’n Vrou het haar geskaam vir drie jong mans wat nie net ’n petroljoggie nie, maar ook vir haar geskel het.
“En ek weet nie eers of hulle toe op die ou einde vir die hout betaal het nie! Ek was so kwaad, dat my man my liewer daar weg gevat het,” sê me. Daleen du Bruyn boos.
Haar kleindogter het aan ’n danskompetisie by die NG Kerk, Suidsaal, deelgeneem. Op ’n stadium het me. Du Bruyn en haar kleinseun oor die pad na die Janmy Vulstasie gestap om die Middelburg Observer te gaan koop.
Sy het drie jong mans, so tussen 18 en 19, onder die afdakke naby die ingang sien staan. Een het ’n sak hout by hom gehad.
Me. Du Bruyn is in by die geriefswinkel en het opgemerk dat twee van die drie jong mans sigarette koop en uitstap.
Die volgende oomblik het die kassier vir die petroljoggie geroep en gesê dat die mans nie vir die hout betaal het nie.
Een van die drie het egter vir die petroljoggie geskree: “f..off!” en hom ook ander goed toegesnou.
Dit was een te veel vir me. Du Bruyn en sy het tussenbeide probeer tree en vir hulle gesê om die hout te betaal en nie so lelik te praat nie.
Die een het haar ook begin skel.
“My man moes my aan my arm daar wegtrek, want ek was woedend. Ek kan nie glo dat in die tye waarin ons leef, dit so maklik is vir jong mense om te steel nie En om so lelik te praat!”
Sy het opgemerk dat ’n ander man, wat ook uit sy kar uit geklim het om ’n koerant te koop, met die driestuks probeer praat het, maar dat hulle selfs met hom ongeskik was.
• Me. Du Bruyn sê sy het gery voordat sy kon uitvind of die jong mans toe vir die hout betaal het.
• By navraag aan Janmy Vulstasie se personeel hierdie week, het hulle gesê hulle weet nie van die voorval nie, maar sal met die petroljoggies en kassiere praat om uit te vind of daar toe vir die hout betaal is.
