News

Drie in hof op string klagtes na ponzi-belegginskema van meer as R11 miljoen in mekaar tuimel

Hulle sal weer op 30 November in die hof verskyn.

Marlene en Clive Lewarne, die beweerde meesterbreine agter ’n multi-miljoen rand ponzi-beleggsinskema, het Vrydag vlugtig saam Annelie Smit in die streekhof op Middelburg verskyn, na hul arrestasie vroeër die oggend.

Die trio het hulself by die handelsmisdaad-eenheid aangemeld nadat lasbriewe vir hul arrestasie twee weke gelede reeds uitgereik is.

Hulle is kort voor 11:00 vanuit die aanhoudingselle na die hof begelei, waar hulle voor landdros Deon Minnie verskyn het. Hulle staan tereg op klagtes wat wissel van sameswering, geldwassery, en die oortreding van beide die bank- en kredietwette.

Al drie is op waarskuwing vrygelaat met streng voorwaardes. Die Lewarnes en Smit het na bewering miljoene rande van beleggers geneem om glo te belê in verskeie mynoperasies waarvoor Marlene na bewering reeds kontrakte met die myne voor gehad het.

Van Smit se nabye familielede, soos haar swaer Jurie Smit, is klaers in die saak.

Talle klaers was teenwoordig in die hof waar Marlene kort na haar vrylating op waarskuwing, deur eTV se Devi Sankaree Govender en haar kameraspan in die hofgange gekonfronteer is.

Sy het die heeltyd vir Govender gesê “lovey, ek’s onskuldig, ondersoek die klaers”.

Sy het ook die Middelburg Observer gekonfronteer omdat die koerant die “bedrogspul” eksklusief onthul het.

Volgens haar was die foto van haar saam wat met die berig verskyn het “onvleiend, en onvroulik”.

Die Lewarnes het tot onlangs in die Midlands Landgoed tuisgegaan, maar die paartjie bly nou in Secunda.

Talle pensioenarisse het hulle volle pensioenne, en gevolglik ook hul huise en ander eiendom verloor.

Plaaslike prokureur mnr. Neil Marais het namens die beskuldighdes opgetree.

Landdros Minnie het beveel dat hul paspoorte ingehandig word, daar nie aansoek gebring word vir nuwe paspoorte nie, dat hulle binne die landsgrense moet bly en geen kontak met klaers op enige platform mag hê nie. Hulle sal weer op 30 November in die hof verskyn.

Devi Sankaree Govender van eTV se Desi Show, praat met klaers buite die hof.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Gerhard Rheeder

I have been a journalist for two decades, with numerous awards to my credit, both in photography and writing. A brief stint as researcher in the opposition offices of the Mpumalanga Provincial Legislature, honed my skills as specialist local government reporter, covering crime and courts.
Check Also
Close
Back to top button