Hawelose Frankie én sy ma praat
In die nag slaap Frankie Swart (32) by ’n kerk en bedags gaan kuier hy oor die hek by sy ma, want sy wil hom nie in haar huis toelaat nie.

“As ek hom by die voordeur laat inkom, gaan hy by die agterdeur uit met al my goed. Ek gee vir hom kos, maar nie geld nie, want ek weet nie of hy weer gebruik nie,” sê Frankie se ma, Mariaan.
Maandagoggend kry ons Frankie saam met sy neef, Nico Lottering, waar hy afstap in Lilian Ngoyistraat.
Hy lieg blatant oor sy van en beloof hart en mond dat hy nie meer op dwelms is nie. “Julle kan my maar toets.”
Later hierdie week sê hy dieselfde vir me. Elna Lewis (van Chain Breakers), maar toe sy hom wil toets, kan hy kwansuis nie urineer nie.
Frankie se ma sê sy is baie lief vir haar kind en kan nie onthou hoeveel keer hy al vir diefstal toegesluit is om sy Cat-verslawing te voer nie.
Sy onthou egter die tyd toe hy uit was op parool en hulle hom soos in ’n tronk in hul huis aangehou en hy heeltemal skoon gekom het.
Sy glo egter weens die invloed van sy neef en ander verslaafdes, dat hy destyds weer begin dwelms gebruik het.
Op hierdie stadium weet sy nie of hy dwelms gebruik nie, maar sy moes die hartseer besluit neem om hom nie weer in haar huis toe te laat nie.
“Ek huil nagte om oor my kind. Ek is ’n ma, ek bly lief vir hom. Mense wat wil oordeel, weet nie wat dit is om ’n kind te hê wat verslaaf is nie. Hy is die enigste een van my vyf kinders wat die pad byster geraak het. Dit is ook nie maklik vir ’n verslaafde om die dwelms net so te los nie.”
Haar moederhart glo dat haar kind weer eendag sal opstaan. “Frankie is ’n liefdevolle kind en ’n harde werker. As hy gehelp kan word, sal hy regkom. Ek wéét dit. Ek glo die Here sal vir hom ’n pad oopmaak. Ek sal nooit ophou bid vir hom nie.”
• Tydens die onderhoud met Frankie se ma, het sy het opgewonde gesê dat daar ’n sakeman is, wat hom moontlik ’n werk gaan aanbied.
•Al meer ouers wend hulle tot www.mobserver.co.za vir hulp met hulle dwelmverslaafde kinders. Dwelmhandelaars maak goed geld uit die dorp se verslaafde jeug en met die sluiting van die Suid-Afrikaanse Narkotiese Buro, floreer hulle sorgvry.
•’n Ma se hulproep is verlede week beantwoord, nadat sy vertel het dat haar seun se gesondheid so agteruit gegaan het “dat sy ingewande besig is om uit sy liggaam te kom. ” www.mobserver.co.za het vir hom plek gereël by ’n sentrum waar hy na drie dae weggeloop het.
•Jarrid O’Connor, wat aan heroïne verslaaf is, het ’n R100 000 borgskap vir hulp by ’n dwelmsentrum laat vaar en is weer die strate in. Hy is duidelik bewus dat Middelburg se mense hom nie meer gaan help nie en bedel nou aan die Oos Rand.
