News

‘Vermoedelik Dood’ een van die dae bekend gestel

Johan Kruger stel op 11 November sy vierde boek, “Vermoedelik Dood” by Bargain Books in die Middelburg Mall bekend.

Johan sê dis ’n fiktiewe spanningsverhaal, wat natuurlik in sy tipe skryfstyl heeltemal iets anders is vir hom. Sy regskennis het egter handig te pas gekom in die gedeeltes waar “advokaat Gerhard Coetzee” ter sprake kom.

Dit is juis Ben Brandt, eintlik die herrysde Joseph Brzinski, wat die einste Coetzee se vermoëns in die hof uitdaag in dié boek.

Johan is ’n skrywer van formaat en het die kritici gaande gehad met sy ander drie boeke, genaamd: “Die Vloek” (2012), “Die Dag van die Lord” (2015) en “Die Voortreflike Ling Ho.”

• “Die Vloek” handel oor die sogenaamde “vloeke” ten opsigte van die “sondes van die vaders wat aan die derde en vierde geslag besoek word.”
Hierdie hartroerende roman begin in 1890 toe ’n boer op ’n plaas naby Middelburg ’n skedel opgrawe.

Die boek is in 2012 vir ’n ATKV-Woordveertjie benoem.

• “Die Dag van die Lord” is ’n historiese roman met Kitchener as die “Lord”.

Vir hierdie boek het hy baie navorsing gedoen en is daar van die gebeure wat deels gebaseer is op ware gebeurtenisse, wat netsowel die geskiedenis kon verander het.

Johan en Hester Kruger oppad om die berg op hul plaas aan te durf. Johan het talle boeke geskryf en Hester het in 2016 haar boek, “Een Nag en ’n Bietjie” bekend gestel.

In hierdie boek is feite en fiksie saamgevoeg in ’n besondere spanningsverhaal.

Dié boek is net voor die grendelstaat aanvaar as die voorgeskrewe leesboek vir Afrikaans (eerste taal) vir privaatskole.

• “Die Voortreflike Ling Ho” is ’n satire oor Willem Landman, van Springs wat “Ling Ho” word met sy vermomming en al sy wedervaringe wanneer hy deur Mpumalanga toer.

Johan beskryf homself laggend as “’n Jack of All Trades” as dit by skryf kom.
As jong man het hy ook vier jeugboeke gepubliser!

Een van hierdie boeke, “Mikpunt Klipkasteel” was in 1982 voorgeskryf vir swart onderwys vir standerd ses (graad agt) leerlinge.
Nog een van die boeke, “Op die Rug van die Groot Olifants” was ’n voorgeskrewe boek in Botswana in 1984.

Die talentvolle Johan is ook ’n meesterskrywer van kortverhale en het talle daarvan in die “Tydskrif vir Letterkunde” verskyn. Daar is ook van dié kortverhale in twee kortverhaalbundels opgeneem

“Dis lekker om te skryf, dit is maar net iets wat aan jou byt.”
En natuurlik is hy alweer besig met sy volgende boek!

• Sy vrou, Hester, het in 2016 haar boek, “Een nag en ’n bietjie” bekend gestel.

Die boek is gebaseer op die ware verhaal waartydens die Kruger-egpaar in 2009 in hul plaaswoning tussen Middelburg en Groblersdal aangeval en ontvoer is.

In hierdie tyd is verskeie ander mense op plase in dié omgewing aangeval, waartydens daar ook ’n man deur sy sitkamervenster doodgeskiet is. Hierdie meesleurende verhaal handel nie net oor die nag se gebeure nie, maar ook oor hul lewens daarvoor en daarna.

Die boek is later op die radio (RSG) voorgelees.

Back to top button