Galgtou wys moordenaar wou vrou ophang
Wanneer kaptein Punchie Nell terugdink in sy dae by die destydse moord-en-roof eenheid, is dit met gemengde gevoelens.
Kaptein Nell (waarnemende bevelvoerder, Valke se Ernstige Geweld Misdaad-afdeling) is trots dat hulle destyds as deel van moord-en-roof vir mense berusting kon gee deur die skuldiges vas te trek.
Hy is baie opgewonde dat die eenheid gaan herleef.
Dit was egter nie altyd maklik om na tonele te gaan en die wreedaards se handewerk te aanskou nie, veral waar kinders seergemaak is.
• Soos die plaasaanval op ’n plot naby Delmas in die 90’s waar die ma 22 keer met ’n mes in die rug gesteek is. “Die twee maande oue babadogtertjie is só hard op die rug geslaan dat haar longetjie platgeval het.”
Die kind het die aanval oorleef.
’n Galgtou is in die stoor gekry, wat ’n aanduiding is dat die moordenaar eintlik die vrou wou ophang.
Hy vermoed die aanvaller is betrap waar hy gesteel het in die huis, waarna hy die vrou met haar eie steakmes doodgesteek het. In die kombuis het die ander steakmessies nog in die houer gestaan.
Met hul ondersoek, het hulle die tuinier gearresteer en hy is lewenslank tronk toe gestuur vir die moord op die vrou en die poging tot moord op die baba.
“Hierdie was ’n waterdigte saak, want daar is onder andere uitwysings gemaak en ’n bekentenis deur die beskuldigde.”
Hulle het die booswig met die hulp van beriggewers vasgetrek.
• Daar was ook twee sake wat hulle in die Waterval-Boven en Waterval-Onder omgewing ondersoek het.
Tydens die een voorval is die vrou doodgeskiet, die man gewond en die kind misgeskiet.
Die skuldige is verbind met ’n inbraak by ’n voertuig by die Vyfboogbrug en ander voertuie by die Zasmtonnel.
Hy het uitwysings gedoen en ’n bekentenis gemaak.

• In dieselfde tyd as die Zasmtonnelmoord, is daar ’n onderwyseres vermoor.
“Nadat die persoon haar vermoor het, het hy kookwater oor haar gegooi om die ontbindingsproses vinniger te maak en ook ’n kombers om haar in die bed gesit.”
Hy het dit gedoen met die hoop dat met die tydsbestek wat hy in die omgewing was, die vingers nie na hom toe sou wys nie.
Kapt. Nell onthou dat almal die beskuldigde ’n “duiwelaanbidder” genoem het.
Luit-kol. Chappies Kruger het die dossier gedra en hy en Pepsi Sibiya het die saak help ondersoek en die verdagte gearresteer.
“In dieselfde tyd wat ons hom gearresteer het, het ons die Zasmtonnel moordenaar ook aangekeer.”
Kapt. Nell het destyds ook albei borgaansoeke hanteer, maar die twee het nie borg gekry nie en is aangehou vir die verhoor.
Maar in hierdie tydperk ontsnap die twee toe saam!
Met die hulp van beriggewers het hulle vinnig die tonnelmoordverdagte opgespoor, maar die “duiwelaanbidder” was skoonveld.
’n Lasbrief vir sy arrestasie is uitgereik, wat regdeur die land gesirkuleer is en die media se hulp is ook ingeroep.
Net ’n paar dae later bel iemand uit Kaapstad uit en sê die man is gesien.
“Ons het dadelik gery, maar toe ons daar kom, was hy nie meer daar nie.”
Hulle was nog besig met hul ondersoek in die Kaap, toe hulle inligting kry dat hy opgemerk is waar hy gras sny in Johannesburg!
Die twee polisiemanne het net daar omgedraaie, Johannesburg toe gery en sowaar hul verdagte gekry by die adres waar hy gras gesny het!
Die man se saak is afgehandel in Middelburg en die tonnelmoord in Lydenburg.
Albei het lewenslank gekry.
• Soms werk jy vir dae en maande aan sake, net om te kyk hoe beskuldigdes weer losgelaat word, omdat die slagoffer nie wil aangaan met die saak nie.
Hy onthou ’n spesifieke plaasaanval waar die boer vasgebind en aangerand is. Dit was een van daardie sake.
Drie verdagtes is gearresteer en het bekentenisse gemaak.
Maar toe hulle in die hof kom, trek die slagoffer die saak terug met die nuus dat hy hulle vergewe het en boonop vir hulle werk gegee het op sy plaas! “Dit na al daardie werk om hulle vas te trek.”
• Die lede van moord-en-roof was altyd toegewyd. Hul eie omstandighede het soms in die agtergrond gebly, net om ander te help.
Kapt. Nell was eenkeer besig om ’n vark, wat hulle vroeër geslag het, te skraap met kookwater. Hy het gegly en per ongeluk sy hand in die kookwater gedruk.
Daardie selfde nag was daar ’n plaasaanval in die Arnot omgewing, waar die man doodgeskiet en die vrou aangerand is.
Met sy aankoms op die toneel, het sy arm en hand klaar watersakke begin maak weens die kookwater. “Ek het op daardie stadium nog nie kans gehad om by ’n dokter uit te kom nie.”
Een van die boere het hom met die hand gegroet het, waarop al die blase gebars en die velle sommer so los gehang het.
Die lede van die forensiese afdeling het vir hom verbande gegee en hy het voort gegaan met die ondersoek.
Kort daarna het beriggewers hulle gekontak en gesê hulle weet waar is die goed wat die moordenaars gesteel het.
Met hul aankoms by die huis, was die verdagtes nie daar nie en het die artikels in die huis gelos.
Die oomblik toe hulle terugkeer, het die moord-en-roof lede hulle in die huis vasgetrek.
Die skuldiges is lewenslank tronk toe vir moord en poging tot moord.
• Op die ou Belfastpad op ’n plot, net buite die dorp, is ’n vrou erg aangerand tydens ’n vlaag inbrake.
Speurders het dit ondersoek, maar moord-en-roof het voortgegaan met die ondersoek op die poging tot moordsaak.
Sy het breinskade opgedoen en was lank in die hospitaal.
Intussen het hulle inligting opgevolg oor ’n Mosambieker wat goed steel en onder ’n boom wegsteek. Hy het ook daar gebly.
Hulle het hom voorgelê toe hy die aand terugkom. Die booswig is positief verbind met talle inbrake in die omgewing met al die bewysstukke wat gekry is. Hy is ook met vingerafdrukke positief verbind met die vrou se aanval en ander sake.
Dit was moeilik vir die vrou om te getuig, maar hulle het haar handsak met ID binne-in by die Mosambieker gekry.
Met die verhoor kon sy egter, die breinskade ten spyt, haar handsak uitken.
Hy is vir meer as 10 jaar tronk toe gestuur op die aanval op die vrou. Daar is later meer jare bygevoeg op die speurders se sake.
• Kapt. Nell is nie net is ’n goeie ondersoeker nie, maar ook ’n uitstekende pistoolskut. Hy het al aan die nasionale pistoolskiet kampioenskappe deelgeneem.
