News

Polisieman getuig daar word gesoek na Simoné Papapavlou

Die staat voer aan dat Simoné Papapavlou nog nie gearresteer is nie omdat die polisie haar nie kan opspoor nie.

Dit en ander inligting het tydens Patricia Ray-Lee Smith (23) se borgaansoek na vore gekom.

Smith is tans in die beskuldigdebank in die Groblersdal Landdroshof nadat sy Donderdag, 29 Oktober, vir die eerste keer op aanklag van die moord op Raymond Papapavlou gearresteer is. Die staat het uitstel gevra om haar adres te bevestig.

Papapavlou is Sondag, 4 Oktober, in sy bed op ’n plaas in die Rooikraal omgewing doodgeskiet. Sy vrou, Simoné, het daarna aan omstanders vertel dat sy voor die televisie aan die slaap geraak het, terwyl haar man reeds in die bed was. Sy het wakker geword van skote en toe self waarskuwingskote afgevuur.

Lees ook: Jong boer (28) op plaas doodgeskiet

Die moordondersoek het egter ’n skokwending geneem toe Smith twee weke gelede in Gauteng vir die moord gearresteer is.

Ockert Botha het vandag namens Smith opgetree. Hy het gesê dat sy kliënt geen vorige veroordelings het nie en dat sy tuis, 200km weg, was toe die moord gepleeg is.

Die verdediging het aangevoer dat Smith sedert haar arrestasie haar samewerking gegee het.

Volgens Smith se verklaring was Simoné Papapavlou, wat saam met haar van die moord verdink word, met tye van haar arrestasie ook op pad om haar aan die polisie oor te gee, maar dit het nooit gebeur nie.

Lees ook: Vrou aangekla vir Papapavlou moord

Die ondersoekbeampte in die saak, sers. Tshepo Mohale, het gesê dat die staat ’n sterk saak teen Smith het. Hy sê dat die polisie op inligting van getuies gereageer het, dat Smith met die moord verbind kon word omdat sy en me. Papapavlou ’n verhouding gehad het.

Raymond en Simoné Papapavlou. Foto: Facebook

Hy het beweer dat getuies se inligting aangevoer het dat die oorledene die paartjie se verhouding bemoeilik het omdat hy nie van sy vrou wou skei nie. Daar was ook glo inligting dat Smith en Papapavlou na ’n vuurwapen gesoek het.

Sers. Mohale het aan die hof gesê dat inligting van die verdagte se selfoon haar in die Rooikraal omgewing plaas, vroeër op dieselfde aand wat die moord gepleeg is. Hy het ook aangevoer dat die polisie twee WhatsApp-gesprekke tussen Smith en Papapavlou in die hande kon kry.

Lees ook: Papapavlou moord: Ondersoekbeampte dra meer as 100 ander dossiere

Sers. Mohale het aan die hof gesê dat hulle steeds na Papapavlou soek, maar nie weet waar sy haar tans bevind nie.

Mnr. Botha het aan die hof gesê dat die getuie wat inligting oor Smith verskaf het en die beskuldigde nie goed oor die weg kom nie.

Hy het genoem dat Smith se foon onlangs gesteel is en dat dit moontlik was dat iemand anders die boodskappe kon stuur. Volgens hom het Smith en Papapavlou vyf maande laas gerpaat.

Hy het ook ’n dokument van KFC aanlyn bestellings aan die ondersoekbeampte gegee, waarin daar staan dat daar op Sondag 4 Oktober kos bestel en net voor 19:00 afgelewer is in Tweefontein, Johannesburg, in die naam van die beskuldigde.

Hofverrigtinge het tans verdaag vir middagete.

Lees meer oor die Papapavlou moord:

Voorheen skote en moord op Rooikraal

Het Mercedes iets met moord te doen?

Gesoute oud-speurder ondersoek Rooikraal moord

Beloning vir inligting oor Rooikraal moord

Almal wag vir nadoodse verslag

Deurbraak in Papapavlou moord lei tot arrestasie

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Jana Boshoff

Jana works as a senior support specialist for Caxton digital. Before that she was a journalist at the Middelburg Observer 15 years where she won numerous awards including Sanlam's Up and Coming Journalist, Caxton Multimedia Journalist of the Year, and several investigative awards. She is passionate about people and the stories untold.
Back to top button