News

Boef kry gebed in plaas van beltyd

In plaas van lugtydgeld het ’n swendelaar iets gekry wat hy nie verwag het nie...’n gebed.

Die berugte lugtydboef het stof tot nadenke nadat ’n leraar hom sprakeloos gehad het, deur vir hom te bid.

“Ek het ’n rukkie saam gespeel, maar het uiteindelik besluit om vir hom te bid. Ek het gevra dat die Here hom moet vergewe omdat hy so jok en die hulp wat mens vir armes wil gee, misbruik. Dit was stil aan daardie kant van die lyn, voor hy die foon neergesit het,” vertel eerwaarde Kokkie Smit van die gebeure vanoggend.

’n “Boer” met die naam “Herkie Rossouw” het hom van die “Weltevreden plaas op Belfast” af gebel.

“Hy wou ’n klomp goed, waaronder bees-, skaap- en varkvleis, hoenders en selfs groente skenk, wat ek onder armes kon versprei.”.

Eerwaarde Smit het dadelik snuf in die neus gekry, maar voor hy kon uitvra, het die lyn uitgesny.

Lees ook: Talle geteiken deur lugtyddief

Kort daarna het die persoon weer gebel en gesê hy moet so gou as moontlik alles op die plaas kom haal.

Eerwaarde Smit sê hy het ’n rukkie saam gespeel. Toe die man egter vir lugtydkaarte, vyf van R275 elk, vra en dat hy asseblief sommer dadelik twee kaarte se kodes moet stuur, ‘want die tannie sukkel’, het hy besluit om vir hom te sê hy weet waarmee hy besig is.

“Ek het net rustig vir hom gebid. Wat anders kon ek doen?”

• Verskeie inwoners, besigheidslui en organisasies van Middelburg en die omliggende buurdorpe was al die slagoffer van dié lugtydslenter. In bykans al die gevalle doen die persoon hom voor as ’n boer wat iets wil skenk.

Hy het selfs al gevra dat ’n lid van die Middelburg herpetologiese vereniging na sy plaas moet kom om ’n mamba te vang, wat sy skape kwansuis doodpik. In hierdie geval het die persoon hom egter in sy peetjie gestuur toe hy begin praat van lugtyd.

Die lugtydskelm het selfs al vir sy slagoffers gevra dat hulle vir hom Grandpa poeiers moet saambring.

• Tydens ’n onderhoud verlede jaar met mnr. Ben Almero (van National Crime Assist – NCA) nadat talle mense deurgeloop het, het hy begin speurwerk doen en ’n lugtydboef in die Bethaltronk opgespoor.

Lees ook: Jou lugtyd help ‘n tronkvoël dwelms koop

Die persoon is verkla en oorgeplaas na ’n ander tronk om nie kontak met sy makkers te hê nie. Dit is egter nie die enigste gevangene wat dit doen nie en ’n ander gevangene is ook al uitgevang.

Dit wil voorkom of die slenter deur gevangenes onder mekaar aangeleer word. As hulle uitgevang word, word hulle wel aangekla, maar in baie gevalle is dit persone wat reeds lewenslange vonnisse uitdien en ekstra straf nie ’n verskil aan sy tyd in die tronk sal maak nie.

Alle aanduidings is dat hierdie gevangenes hulp van buite het om teikens te identifiseer. Hulle gebruik ook sosiale media, WhatsApp groepe en koerantberigte om persone se nommers in die hande te kry.

Die lugtyd wat hulle so bekom, word in ruiltransaksies gebruik vir geld, sigarette of dwelms.

Mnr. Almero het destyds gesê dat solank as wat mense naïef is en stories “wat te goed is om waar te wees” glo, sal die slenter nooit ophou nie.

“As iemand jou uit die bloute bel, met ’n goeie storie en vra vir lugtyd, moet jy weet hier is iets verkeerd. Hou op om vir hulle lugtyd te koop en dan sal hulle ophou met die scam, want hulle sal sien dit werk nie meer nie.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button