Dronk man skiet wag
So dronk dat hy aan sy motor se deur moes vashou, maar nie te dronk om ’n sekuriteitsbeampte te skiet nie.
Die Polisie is steeds op soek na die bestuurder van ’n BMW motor, wat ’n sekuriteitsbeampte van WIPS Sekuriteit in die vroeë oggendure geskiet het.
Mnr. Piet Groenewald (Eienaar van WIPS in Groblersdal) vertel dat mnr. Jeremy Kayster in die skouer gewond is, nadat hulle ‘n dronk bestuurder gewaarsku het, wat byna ‘n trompop botsing veroorsaak het.
Twee van sy lede, mnre. Pieter Botes en Kayster, was besig om patrollie te doen op pad na die Loskopdam damwal toe, omdat een van hul ander wagte ‘n skoot gehoor het naby die damwal.
“Ons neem enige skoot ernstig op, want dit is naby die reservaat en dit kon wilddiewe wees wat ‘n renoster geskiet het. Daar is egter ook baie boere in die omgewing en ons het begin met ‘n radioroep om te hoor of alles reg is by die boere.”
Intussen het die twee lede na die damwal gejaag, maar net verby die Elandsdoornpad het ‘n rooi BMW, sonder ligte, van voor af heen en weer oor die pad aangery gekom, reg in hul baan in.
Om ‘n trompop botsing te vermy, moes hulle van die pad af jaag.
Die BMW is by hulle verby en hulle het omgedraai en die voertuig agterna gesit.
Hulle het langs hom inbeweeg en vir die bestuurder gewys dat hy moet stop.
Die bestuurder het uitgeklim, maar was só dronk dat hy aan die deur moes vashou.
Hulle het vir hom gesê dat hy so byna ‘n ongeluk veroorsaak het, waarop hy aggressief reageer het met “ek weet julle is sekuriteitbeamptes en ek gaan julle doodmaak.”
Mnre. Botes en Kayster het vir hom gesê hy kan nie verder in sy beskonke toestand bestuur nie en gevra om iemand te bel om hom te kom help.
Hulle was baie haastig om by die damwal uit te kom en wou nie met die man argumenteer nie.
Mnr. Botes was nog besig om ‘n U-draai te maak, toe die BMW aangejaag kom, so asof hy hulle wil stamp en het langs hulle aan die passasierskant ingery.
Hy het op hulle begin skree en mnr. Botes het in trurat probeer wegry.
Die dronk bestuurder het egter sy wapen uitgepluk, mnr. Kayster het probeer wegkoes agter die pilaar van die deur, maar hy is steeds gewond.
Die projektiel is deur sy skouer en uit by sy heup.
Die booswig het weggejaag en mnr. Botes het met die beseerde mnr. Kayster na die Groblersdal Hospitaal gejaag, waar hy gestabiliseer en deur Swift EMS na die Kosmos Hospitaal in eMalahleni afgevoer is. Mnr. Kayster is later oorgeplaas na die Life Midmed Hospitaal.
• Mnr. Kayster kan homself gelukkig ag, aangesien die projektiel al die belangrike organe gemis het. Hy is later ontslaan.
• Daar is ‘n koeëlpunt in die voertuig gekry, wat aan die polisie oorhandig is vir verdere ondersoek.
• WIPS: Wild Life Investigation and Protection Services.
