News

Skole gee een treetjie vooruit

Plaaslike kleuter- en bewaarskole is gewurg deur die Covid-19 pandemie.

Anri Botha moes “Een Treetjie Voor Speelskool” verkoop.

“Die grendelstaat het my finansieel seergemaak en ek het tot vandag toe ook geen Ters-geld ontvang nie.” Ters is die tydelike werkgewer-werknemer-verligtingskema.

Me. Botha sê die kleuters se ouers kon nie hulle verpligtinge nakom nie en sy moes die personeel uit haar sak betaal.

Alhoewel sy hartseer is dat sy nie kon aangaan met “Een Treetjie Voor Speelskool” nie, het die inperking haar laat besef hoe belangrik haar eie gesin is.

“Ek was so besig dat ek vroegoggende en laatnagte tuis gekom het en my gesin baie min gesien het.”

Me. Botha gaan nou tuisonderrig met haar eie kinders doen.

Sy is dankbaar dat die nuwe eienaar, me. Delmari Meyer, met die kleuterskool voortgaan en ook die naam behou.
Me. Meyer het “Een Treetjie Voor” oorgekoop by me. Botha.

Sy het voorheen Kleuterskool Tiekiedraai in Dennesig bedryf en het al haar kleuters net so oorgeskuif na die nuwe kleuterskool.

“Dit is wonderlik dat ek hierdie geleentheid gekry het en my kleuters se ouers ondersteun my ongelooflik. Ek is ’n enkelmamma en dit gaan goed by ons. Ons het selfs al bome geplant en onlangs die nuwe speelarea ingewy.”

Dit is egter nie die enigste speelgroepie wat geraak is deur die grendelstaat nie.
Talle kleuterskole, speelgroepies en dagmoeders het finansieel harde houe gevat.

In baie gevalle het kleuterskole verminderde tariewe gehef, omdat hulle elektronies elke dag vir die ouers die kleuters se opvoedkundige werk gestuur het.
Baie ouers moes inderhaas ander planne beraam en oumas en oupas, tannies en selfs vriende is nader gehark om te help.

Die hartseer is dat baie ouers hul werk verloor het weens die grendelstaat en dus glad nie die kleuterskole kon betaal nie.

• Me. Denise Hammann, van Kleuterskool Lofkleuters (agter die NG Kerk in Gholfsig) sê hulle het 50% van hul inkomste verloor.

“Van die 50 kinders wat ons gehad het, het net 22 teruggekom.”

Die kleuterskool het drie klassies waar hulle kyk na kleuters vanaf 18 maande tot vyf jaar.
Dié kleuterskool was, soos al die ander kleuterskole toe tot 6 Julie.

•Me. Hannelie van Dam, van Kleuterskool Gansiekeur, sê dit gaan baie goed by hulle en die skool is reeds byna honderd persent vol.

Hulle het selfs ’n kind van China gehad wat ’n rukkie by hulle skool gegaan het, omdat sy ouers nie kon terugkeer na China nie, omdat die vlugte opgeskort was.
Die kind se ma het in Suid-Afrika kom geboorte gee en was hier gestrand weens die grendelstaat.

Finansieel het dit, soos met al die ander kleuterskole, maar broekskeur gegaan.

“Ons het net vir twee maande Ters-geld van Sassa gekry en het ’n tekort op ons begroting gehad. Ons sê egter dankie dat ons nie een van die kleuterskole is wat moes toemaak nie. Alhoewel personeel hul bonusse verloor het, kon ons hulle aanhou betaal.”

Alhoewel die kleuters nie by die skool was nie, het hul werk nie agterweë gebly nie.
Personeel het elke dag hul lessies vir die ouers gestuur.

Selfs die personeel by die baba-afdeling het vir die ouers laat weet watter oefeninge en masserings hulle met die babas moes doen.
Om ouers tegemoet te kom, het hulle in hierdie tyd ’n verminderde tarief op skoolgelde gevra.

• Nog ’n groot kleuterskool wat die wind van voor gekry het tydens die inperking, is Kleuterskool Kabouterland.

Me. Sanet van Rensburg (hoof van die kleuterskool) sê hulle kon gelukkig voortgaan, omdat hulle deel uitmaak van Laerskool Kanonkop.
Net ’n paar kinders het nog nie teruggekeer skool toe nie, “maar ons getalle tel daagliks op.”

Me. Van Rensburg sê die kleingoed verbaas hulle elke dag. “Hulle is soos klein superhero’s met hul maskertjies. Hulle weet ook klaar presies waar hulle moet staan op die spoortjies wat ons vir hulle buite gemaak het.”

Hulle gaan nog elke dag aan met hul dagprogramme, wel volgens die Covid-10 regulasies, maar buitespel het net totaal verander.
Me. Van Rensburg sê sy weet van ander kleuterskole wat toegemaak het omdat ouers nie kon betaal nie.

“Ons het begrip vir al die probleme wat ontstaan het weens die Covid-19 pandemie en ek haal my hoed af, alle kante toe, vir alle personeel en ouers.”

Wat haar die meeste verstom het, is haar personeel se positiewe gesindheid. “Al was daar nie regtig finansies om by al die regulasies uit te kom in klasse nie, het die personeel ingespring en uit hul eie sakke klasse aangepas!”

Me. Van Rensburg sê die pandemie ten spyt, is hulle dankbaar vir die skool en hul beheerliggaam se ondersteuning.
“Hierdie krisis hou almal op hul knieë, ons bid, glo en vertrou dat dit vorentoe net beter kan gaan.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button