Johan kry nog ’n kans
Die Oorwinnaars Halfweghuis se deure is wéér oop vir die selferkende dwelmslaaf, Johan Gouws.
Pastoor Jannie Jacobs, aan die stuur van Oorwinnaars, het reageer op ’n berig op www.mobserver.co.za verlede week waartydens Johan vir ’n joernalis gesê het hy is moeg om dwelms te gebruik en om koud te slaap.
Volgens past. Jacobs is Johan al talle kere gehelp, maar hulle is bereid om hom nog een kans te gee. “Hy moet egter self hiernatoe kom, al moet hy duimgooi, dan sal dit wys hy wil regtig skoon kom.”
Hy sê dat Johan die eerste keer “vol dwelms” by hulle aangekom het.
Daarna was hy weer twee keer by die Oorwinnaars en ook by Bread of Life.
Past. Jacobs onthou dat sy broer, JP, wat vier jaar gelede oorlede is, ook by hulle was.
“Hy het kort nadat hy hier gekom het, gesê hy kan nie hier bly nie en is weg. Daardie selfde week is hy dood op die sypaadjie gekry.”
Daarna het hulle vir Johan jammer gekry en hom weer gehelp.
“Ons weet hoe Johan se kop werk. Hy is vinnig om Jarrid sleg te sê, maar hyself was al vier keer by ons en twee keer by Bread of Life. Hoeveel kanse wil hy nog hê?”
Past. Jacobs sê die Bybel is egter duidelik daaroor dat ’n mens 70 maal 70 keer moet vergewe en daarom wil hy hom nog ’n keer help.
“Elke keer wanneer Johan reg gekom het, het sy lyf baie gou goed gelyk as hy in die gimnasium oefen. Johan ken die Bybel ook baie goed.”
Past. Jacobs het gemeld dat Johan die reëls by die Oorwinnaars Halfweghuis baie goed ken.
“Ons laat geen dwelms toe nie en as jy steel, word jy toegesluit. Hier moet ek byvoeg dat Johan nog nooit by ons gesteel het nie.”
• Dit gaan tans baie goed by die Oorwinnaars. Daar is tans sewe jong mans wat gehelp word om die verslawing af te skud.
“Die Here is goed vir ons en het die hele tyd in die grendelstaat voorsien deur in mense se harte te werk om ons te bless.
Daar is ’n paar lammers gebore en ons het drie maande gelede ’n vulletjie bygekry. Ons is baie dankbaar.”
