Lugtydboef maak al meer mense die Dawner in
Daar is klaarblyklik geen salf te smeer aan die berugte lugtydboef nie, wat al meer mense die “Dawner” in maak, as jy na die filantroop, Dawn van Baalen, luister.
Selfs nadat ’n leraar vir die hom gebid het, het hy die vermetelheid gehad om nóg ’n organisasie te probeer inloop!
Www.mobserver.co.za het die Dinsdagmiddag berig dat eerwaarde Kokkie Smit vir die lugtydbedrieër begin bid het, toe hy besef wat aan die gang is.
Lees ook: Boef kry gebed in plaas van beltyd
Die bedrieër, ’n kamtige “boer van Belfast” wou kwansuis vleis en groente skenk vir armes, maar toe hy vra vir lugtyd, toe besef eerwaarde Smit dat hy ’n leuenaar is en het vir hom gebid.
Later die dag het me. Van Baalen, voorsitter van die Mannaprojek, laat weet dat die einste “boer” haar ook gekontak het.
Gelukkig het die oproep uitgesny, voordat sy hom kon vertel wat hy kan maak met sy “skenking” en wat sy dink daarvan dat hy lugtyd vra.
