Johan Botha en Braam Viljoen, is eintlik Bruce Turvey!
Wat het Braam Viljoen en Johan Botha met mekaar uit te waai? Albei is eintlik Bruce Sean Sturvey!
Met ’n bietjie speurwerk deur www.mobserver.co.za, het dit aan die lig gekom dat ’n verdagte wat al twee keer gearresteer is vir diefstal, elke keer vir die polisie én die hof lieg!
Dieselfde persoon is in Augustus na ’n diefstal by die Engen Vulstasie in Kanonkop en Saterdag na ’n diefstal die vorige dag by Hinterland, deur reaksie-offisiere van Mid Alarms vasgetrek. Videomateriaal het hulle na die verdagte gelei.
Shane van Rooyen (Mid Alarms ondersoekbeampte, asook senior van die spesiale operasionele eenheid) het dadelik vir Bruce Sean Turvey herken toe hulle hom Saterdag op ’n sypaadjie in De Villiersstraat vastrek. Mnr. Van Rooyen het aan www.mobserver.co.za vertel dat hulle hom ook in Augustus gearresteer het na ’n diefstal by die Engen Vulstasie in Kanonkop.
Turvey het Saterdag tydens die arrestasie sommer erken dat hy in die laaste paar weke nie net by Hinterland nie, maar ook by ’n hardwarewinkel in Eastdene gereedskap gesteel het. Al die gesteelde items het hy by die Iraq Taxistaanplek verkwansel.
By navraag aan die polisie, was daar egter géén spoor van ’n Turvey op hul stelsels nie! Volgens hulle het ’n ene “Braam Viljoen” Maandag in die hof verskyn op die diefstalklag by Hinterland. Mid Alarms het egter volgehou hulle het Bruce Sean Turvey gearresteer! En net daar begin ons ondersoek.
Tydens die onderhoud met mnr. Ruan van der Merwe (takbestuurder van Hinterland) het hy Vrydag dadelik onraad vermoed toe ’n jong man by sy kantoor inkom en vra of hy nie groter tange het, as dié wat hy in sy hand het nie. Kort nadat die man uit sy kantoor is, het hy die CCTV Videomateriaal nagegaan en gesien hoe die einste jong man tange ter waarde van R900 steel en onder sy klere versteek.
Op daardie stadium was die dief reeds weg en het hy Mid Alarms gekontak. Mnr. Van Rooyen en sy span, Gert van der Walt en Dolf Labuschagné, het van Vrydag af regdeur die dorp patrollie gedoen om die verdagte op te spoor. Saterdag het hulle hom in De Villiersstraat opgespoor, waar hy op ’n sypaadjie gesit het. Hy het dadelik erken dat hy die tange reeds by die Irak Taxistaanplek vir R150 verkwansel het.

Mnr. Van Rooyen het hom ook herken as die persoon wat Mid Alarms in Augustus vasgetrek het nadat blokke sjokolade ter waarde van meer as R600 by die geriefswinkel van die Engen Vulstasie in Kanonkop gesteel is.
Dit was die tweede keer dat Turvey by dié winkel in Kanonkop uitgevang is. Die eerste keer het die personeel hom jammer gekry, nadat hy beloof het dat hy nie weer sal steel nie en ook dat hy kwansuis sou betaal. Na die diefstal in Augustus, het hulle egter diefstalklagtes teen die jong man aanhangig gemaak.
Toe mnr. Van Rooyen hom uitvra oor die diefstal by Hinterland, het hy dit erken en ook gemeld dat hy onlangs in Eastdene by ’n winkel gereedskap gesteel en dit ook reeds verkwansel het. Hy het bygevoeg dat hy ’n paar weke gelede probeer vleis steel het by OK Grocer in Meyerstraat, maar dat ’n vrou hom gesien het, waarop hy dit toe maar teruggesit het op die rak.
Die polisie se mediakantoor het egter volgehou dat daar geen Turvey op hul stelsel is, wat vir enige van die sake verskyn het nie. Op die vulstasie se saak, het “Johan Botha” nie ’n identiteitsboekie by hom gehad nie en die begin van sy ID opgegee as 891226.
Met sy arrestasie Saterdag, het hy vir die polisie gesê hy is “Braam Viljoen” en sy volledige ID gegee, maar hy het nie ’n identiteitsdokument by hom gehad nie en sy adres opgegee as “De Villierstraat”.

Intussen het mnr. Van Rooyen vir www.mobserver.co.za op die spoor van die Pandkor Pandjieswinkel gesit, waar Turvey al voorheen artikels verpand en vir hulle ’n afskrif van sy ID gegee het. Hulle het hom ook dadelik herken as Turvey toe Mid Alarms vir hulle ’n foto wys wat na die arrestasie gemaak is.
Www.mobserver.co.za het twee en twee bymekaar gesit en dadelik besef dat Botha en Viljoen, eintlik Turvey is! Die inligting is oorhandig aan die mediakantoor, wat dadelik gesê het dat die ID wat Viljoen opgegee het (hy het nie ID dokumente by hom gehad nie), beslis die ID is van die afskrif van Turvey is wat www.mobserver.co.za voorsien het.
Turvey het nie net diefstal gepleeg nie, maar ook meineed! Hulle het onderneem om dit te ondersoek.
• “Braam Viljoen” het Maandag in die hof verskyn op ’n klagte van diefstal na aanleiding van die Hinterland-saak en is op waarskuwing vrygelaat. Die saak is uitgestel na ’n later datum vir verdere ondersoek.
• Mnr. Jabulani Mpali (bestuurder, Engen Vulstasie, Kanonkop) het gesê dat hulle nie weet wat van hul klagte geword het nie.
Kyk hier na die video van Turvey in Hinterland: https://fb.watch/1PiB55YaAv/
