News

Huis ontplof toe weerlig tref

Dit moes soos die oordeelsdag gewees het toe ’n huis in Kanonlaan (Dennesig) deur ’n weerligstraal getref is.

“Die huis het geskud, ’n gat het dwarsdeur ’n baksteenmuur geskiet en alles het ontplof,” vertel me. Tracey Williamson.

Hulle was vir meer as 10 dae sonder krag of water na die voorval. “Die elektrisiën en loodgieter het gesê dat dit net genade van Bo was dat ons huis nie afgebrand het nie.”

Hulle was weg vir ’n paar dae en is omstreeks middernag op 5 November deur die bure gebel om te hoor of alles reg is.
Na die geweldige donderslag het van die bure die skerp reuk van ’n elektriese brand gekry.

’n Venster is ook uitgeskiet toe kabels weens die weerlig raakgeslaan is.

Niks kon die Williamsons voorberei op wat hulle met hul terugkeer gekry het nie.

Alle elektriese kabels en elektriese bokse en selfs die boorgat se kabels het ontplof, toe die weerlig die huis tref.

“Mense wat die huis opgepas het, sê die huis het heen en weer geskud van die slag!”

Muurproppe het uit die mure uit geskiet en ligte en kabels het aan die brand geraak.

Die muurproppe het fisies ontplof toe die weerlig die huis tref.

Die smeltende ligte en kabels wat in die motorhuis uitgeskiet en aan die brand geraak het, het op hul Mazda CX5, wat toegesluit was in die motorhuis, geval en die kar se bakwerk beskadig.

Me. Williamson sê dat hulle eers teen hierdie week Woensdag krag en water gehad het.

Haar man, Pieter, sê alhoewel die skade op sowat R150 000 geraam word, is die finansiële skade niks as in ag geneem word wat sou gebeur het as hulle tuis was nie.

Die brandende kabels en ligte wat uit die dak uitgeval het, het skade op die voertuig veroorsaak.

“Ja dit is ’n finansiële verlies, maar niemand is gelukkig beseer of dood nie.”

As hy moet terugkyk na die gebeure, is dit die goedhartigheid van die Middelburgers wat in die omgewing bly, wat hom altyd sal bybly.

“Ons het ’n goeie ondervinding midde in die slegte ondervinding gehad. Die mense was geweldig ondersteunend. Ons kon hulle krag en water gebruik en ons is selfs vir ete genooi!”

Die gesin bedank almal vir hul hulp en ondersteuning, asook die kontrakteur wat nog besig is met die herstelwerk.

Die ligte het ook uitgeskiet.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button