Verhoorafwagtende Knoesen se seun sterf in ongeluk
Harry Knoesen, plaaslike pastoor en omstrede leier van die Crusaders wat tans in aanhouding is op terrorisme klagtes, se seun is gisteraand in ’n motorfietsongeluk dood.
Knoesen het nog ’n seun, William, jare gelede ook aan ’n motorongeluk verloor.
Hector Knoesen is Sondagaand dood, nadat hy met sy motorfiets agterin ’n minibus taxi vasgery het in die omgewing van die Samora Machell afrit na die Bethalpad op die N4, net buite Middelburg.
Knoesen is in 2019 in sy huis op Middelburg gearresteer, kort voor Black Friday nadat daar beweer is dat hy en ander beplan het om aanvalle op uitgesoekte teikens te loods. Knoesen, Errol en Eric Abram word van terrorisme en hoogverraad aangekla. Die drie wag nog vir ’n verhoordatum.
• Inligting oor presies hoe die ongeluk gebeur het, is nie tans beskikbaar nie. Hector Knoesen was die pa van twee dogtertjies. Daar was nie teen druktyd enige begrafnisreëlings gefinaliseer nie.
