Ma oor hondekinders: “Dogs’ lives matter!
’n Jong man wie se honde altyd by hom gesit het terwyl hy studeer, het Vrydagmiddag op al sy hondemaats afgekom nadat die honde vergiftig is.
“Vir hierdie mense is dit net ’n toegang tot ons huis, maar ons het op een slag al vier ons kinders verloor,” het me. Theresa Jordaan hartseer gesê.
Hulle het Donderdagaand al gery vir ’n naweek weg, maar haar seun, Alec, wat medies studeer, het Vrydag huis toe gekom.
Hy het voor die huis in Eeufeestraat (Clubville, Middelburg) gestop en Kiki (Jack Russell) sien lê. Sy het nie reageer toe hy roep nie en hy het na haar toe gehardloop.

Alec het besef sy is dood en het na die ander drie honde gesoek. Agter hom het hy Bees, nog een van die Jack Russels, gevind en kort daarna die skaaphondjie, Lyla.
Hy het ook die swart sakkie, waarin die gif was, gevind wat die honde ingekry het.
Tibby (Jack Russell) is skoonveld en die gesin het geen idee wat van haar geword het nie.
Me. Jordaan kry trane in haar oë as sy die spesiale tye met hul honde onthou.
Lyla het Alec as geskenk gekry nege jaar gelede en hy het haar al die pad vanaf die Karoo na Middelburg gebring.
Tibby het hy nege jaar gelede as geskenk gekry.

“Toe Tibby die twee kleintjies, Bees en Kiki kry, kon ons dit nie oor ons harte kry om hulle weg te gee nie. Al die honde was ons kinders!”
Terwyl Alec studeer het Tibby sommer by hom op die studeertafel gesit. Die ander drie honde het dan by hulle op die bed gelê.
“Ons honde was ons lewe. My kind het met hulle grootgeword. Dit gaan lank vat om hieroor te kom. Ek wil vir almal daar buite sê: “Dogs lives matter! Honde is belangrik. Dit is onvergeeflik wat hierdie mense gedoen het!”

• Me. Jordaan sê hulle het altyd gehoor van die vergiftigings in Kanonkop en Dennesig. “Dit wys egter hulle is nou oral!”
Sy het al haar bure in kennis gestel en die gemeenskap gevra om op die uitkyk te wees vir verdagtes wat te lank by ’n hek staan en ’n huis bekyk.
Me. Jordaan vermoed hulle is dopgehou en dat die honde Vrydag deur die loop van die dag vergiftig is, aangesien die bure hulle nog Vrydagoggend hoor blaf het.
Eeufeestraat is ’n baie besige straat en sy vra dat indien enige persoon moontlik die verdagte by die hek gesien het, of moontlik weet wat van hul hond geword het, om haar te bel by 083 630 2155.
