Wat is in ’n naam, al is dit ’n hond?
“What’s in a name? That which we call a rose by any other name would smell as sweet.”
Shakespeare het sekerlik bedoel; al noem jy ’n roos ’n kakiebos, sal dit steeds lekker ruik.
’n Joernalis bly seker ook ’n joernalis, al noem jy hom wat.
Al vloek jy hom, al sê jy hy is ’n aasvoël.
Is ’n paar dinge oor die jare genoem wat seergemaak het.
Stap lank gelede by die speurtak op Witbank in, waar gryskop Majoor Jordaan elke week die misdaadboek deurblaai en dan die misdaadvoorvalle een vir een opnoem.
Die oggend was hy seker nie lus vir ’n koerantman nie. Hy het in die gang hoorbaar vir ’n kollega gesê: “Laat ek eers die klein p!^! help.”
Hy het toe nooit gehelp nie, maar Piet Etsebeth, wat my seker jammer gekry het; “Dankie Piet!”

Die lelikste gevloek deur ’n man wie se seun in ’n motorfietsongeluk dood is, dieselfde groot motorfiets wat hy trots vir sy seun gekoop het, het sy seun se dood veroorsaak.
Hy was daarna nie dieselfde nie en het ’n moordlys opgestel.
Lees ook: A dog called Tobie
Die dag toe hy hoor die koerant wil ’n berig doen, het hy die woord lank en hard oor die telefoon uitgerek: “Jou êêê…”.
Sedertdien is die woord, wat beskryf kan word as vloeistof wat by ’n seer uitloop, vir my die lelikste vloekwoord wat daar is. Sy prokureur het later gebel en gesê “vlug, jy is bo aan daardie lys”.
Was al ’n moer, “Moer van die Jaar”. Maar dit was darem ’n aartappelmoer, een wat toegeken is deur die organiseerders van die aartappelfees op Bethal.
Was al Ou Boobs! “Boobs van die Jaar”. Sertifikaat geraam en oorhandig deur die besturende direkteur, John Frewin, na berigte oor ’n vrou wat hare kaalbors geknip het.

Kappie Kapp groet altyd met ’n: “Hallo Oom Koerant”.
Ma het altyd gemaan “mens sê nie iemand is mal nie”. Maar daar was ’n koerantman wat bekend was as “Mal Smith”. Hy was Hannes Smith, redakteur van die Windhoek Observer, en bekend vir die kaalbas foto’s van vroue op bladsy drie van sy koerant.
Hy was berug en beroemd vir sy ondersoekende joernalistiek.
Nuushond, bloedhond, eintlik ’n kompliment vir ’n joernalis wat sy sout werd is en ’n storie vat soos ’n goedopgeleide polisiehond.
In aggenome wat Shakespeare gesê het, wat word ’n hond wanneer hy na jou vernoem word? ’n Koeranthond?
Gaan doen ’n storie in Mhluzi en vra die plaaslike skilder, Johnson Seopela, vir rigtingaanwysers.
Maar Johnson wil eers sy hond vir my gaan wys.
En die hond se naam? “Tobie!”
Seker nie elke dag dat ’n nuushond by die Seopelas kuier nie, want sy vrou roep opgewonde by die agterdeur: “Tobie, Tobie, Tobie…”. Die kinders is baldadig, die hond is baldadig, hy lek, én spring én blaf, so al asof hy bly is om sy naamgenoot te ontmoet. Staan trots daar, wat ’n eer?: ’n Hond na my vernoem!
Dink toe aan Shakespeare en aan Johnny Boemelaar.
Johnny het na ’n paar maande op die reguitpad in die kantoor as hawelose gesit. Toe jy vra: “En nou Johnny?” het hy so veraf trek in sy oë gekry en geantwoord: “Ek bly maar net ’n boemelaar”.
Jy kan ’n koerantman enigiets noem, hy bly maar net ’n koerantman.
En jy kan ’n hond Tobie noem, hy bly maar net ’n hond…
