Seun (15) slaan sy ma met vuis
’n Vyftienjarige seun slaan sy ma met die vuis en ’n sewejarige seuntjie wil selfmoord pleeg.
Dit is maar net twee van vele gevalle van ernstige probleme in Middelburg waar kinders die swaard van ’n narsistiese pa se “voorbeeld” van jarelange mishandeling op hul ma’s, uiteindelik in hul eie hande neem.
Kokkie Smit sê alles wat almal nou doen in die 16 dae van aktivisme teen mishandeling van vroue en kinders, is alles mooi en goed.
“Maar wat gebeur daarna?” is die groot vraag wat hy vir elke persoon in ons, ja ons Middelburg gemeenskap, vra.
Daar rus ’n groot verantwoordelikheid op almal se skouers om die spreekbuis te wees vir vroue en kinders wat weens vrees vir hul mans moet stilbly.
“En dit is nie net die buurvrou wat moet praat nie. Kerke moet nie net aanbied om te bid nie, hulle moet inspring en hul deel doen. Die polisie, prokureurs en families moet hul werk doen. President Ramaphosa wil nuwe wette inbring, maar daar is genoeg wette! Dit moet net toegepas word.”
Kokkie begin vandag met ’n reeks waar hy vertel van ’n “bekende familie” en hul verhaal wat eintlik maar talle gesinne se verhale is, maar net met ander name.
Hy wil met hierdie reeks video’s waarmee hy pas begin het, ons gemeenskap uitdaag om daardie verskil te maak.
Nie net in hierdie 16 dae nie, maar in elke dag vorentoe om vir elke vrou en kind wat tans in ’n donker tonnel van wanhoop rondtas, daardie lig aan die einde van die tonnel te wees.
• Die video’s sal gedurende die 16 dae van aktivisme teen mishandeling, gereeld op die St John’s Presbeteriaanse Kerk se Facebookblad geplaas word. Hierdie video is die intreevideo van die reeks.
