News

Groter liefde het niemand as dit, hy het sy lewe vir sy kind gegee

As is verbrande hout, maar as Lizel Visagie ’n grafsteen gehad het, sou daarop gestaan het: “Sy het haar lewe vir haar kind gegee”. Op Middelburg word Lizel as ’n held beskou, nadat sy haar dogter, Ceriza (15), uit die pad gestamp het van ’n voertuig, voordat sy doodgery is.

Maar Lizel het nie ’n grafsteen nie, haar oorskot word in ’n kissie bewaar in haar ma, Marie, se kluis.

Die man wat na bewering vir haar dood verantwoordelik was, tydens die ongeluk op 23 Maart 2019, Khumbulani Malinga, moet na die ingryping van Afriforum se privaatvervolgingseenheid, op 1 Februarie 2021 in die hof verskyn.

Maar daar is wel ’n grafsteen in die ou begraafplaas op Middelburg wat sê: “Groter liefde het niemand as dit, hy het sy lewe vir sy kind gegee”.
Dit is die graf van Frederik Scheuble Bukes, gebore op 4 Junie 1900, oorlede op 16 April 1950.

Op 16 April 1950 het die onderwyser van die Botshabelo sendingstasie, Frederik Bukes (49), besluit om sy gesin na ’n kerkdiens op ’n uitstappie na Belfast te neem.

 

Sewentig jaar gelede by die graf van Frederik Bukes. Ferdie, Suzette en Marita saam met hulle ma, Cillie, en hulle pa se oudste broer Alkie Bukes,

 

Agt kilometer buite Middelburg het hy gestop om na die staalspoorwegbrug te stap saam met sy twee kinders, Ferdie (11) en Suzette, wat vier dae vantevore haar vierde verjaardag gevier het. Sy vrou, Cillie (42), het in die kar gewag en Marita (8) het besluit om tuis te bly.

Klein Ferdie het opgewonde saam met sy pa vooruit gestap met Suzette wat agterna trippel.
Dit moes vreesaanjaend gewees het toe die swart trein vanaf nêrens aangestoom kom.

Frederik het uitgeroep: “O my God!” en vir Ferdie geskreeu om te hardloop. Hy het vinnig weggekom.

Binne sekondes moes Frederik besluit om soos sy seun na veiligheid te hardloop of sy dogtertjie se lewe te red.

In een desperate poging het hy Suzette in sy arms opgeraap en haar styf teen sy bors vasgedruk, terwyl hy van die brug spring.
Tydens die sprong het hy Suzette tussen die pilare van die brugkonstruksie ingegooi… Frederik het na sy dood geval.

Suzette het ernstige beserings aan haar lip en rug opgedoen en kon nie haar pa se begrafis bywoon nie.

Suzette Bukes (Botes) as jong dogtertjie.

Haar suster, Marita Bekker (Bukes), het later vertel dat die kleine Suzette verbied is om te huil, weens ’n ernstige lipbesering. “Tydens hospitaalbesoeke was sy baie dapper, maar wanneer ons later deur die gordyne geloer het, het ons gesien hoe hartroerend sy huil”.

Sy is op 19 April 2004 in Bloemfontein oorlede, na ’n rugoperasie.

Tot haar dood het sy ook ’n merk aan haar lip gehad as gevolg van die val.

Ferdie het later sy pa se graf besoek.

Ferdie Bukes by sy pa se graf. FOTO: Frederik Scheuble Bukes.

Vandag word besoekers aan die geskiedkundige ou begraafplaas steeds herinner aan Frederik se heldedaad:

“Groter liefde het niemand as dit, hy het sy lewe vir sy kind gegee.”

Ferdie Bukes by die huis in Joubertstraat, oorkant Laerskool Middelburg, waar die Bukes gesin gebly het ten tye van die tragiese brugongeluk. FOTO: Marita Bekker (Bukes).

Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button