Naweek se moord was nie die eerste op Tonteldoos
Terwyl daar ’n grootskaalse soektog geloods is na die moordenaars van ’n man wat die naweek op ’n gasteplaas in Tonteldoos doodgeskiet is, maak die slagoffers van ’n ander vlaag misdade in dieselfde omgewing hulle reg om weer hierdie week in die Middelburg Landdroshof te verskyn, terwyl die naweek se moord weer wonde oopgekrap het vir die familie van Sarel van der Merwe, wat in 2014 op die plaas Froggy Pond in Tonteldoos, vermoor is.
Len Pretorius (60) is Vrydagaand in die gesig geskiet, nadat drie rowers teen die venster van hul rondawel by Bush Boys, waar hy en sy vrou Joey vir die naweek gebly het, kom hammer het.
Mnr. Pretorius het volgens ’n misdaadverslag wat deur ’n veiligheidsgroep opgestel is, ’n tas na die rowers geswaai, voor hy geskiet is.
Die aanvallers het daarna die rondawel binnegedring en geplunder op soek na waardevolle items. Hulle was soos blits weer weg omdat die eienaar van die plaas, Joe Holmes, se huis naby aan die rondawel was en hy dadelik gereageer het toe hy die geweerskoot hoor.
Daar is vertroulik verneem dat twee ander voorvalle, een die aand voor die moord en ’n ander die aand na die moord, moontlik almal verband hou met die aanval. Die inligting word op versoek weerhou om nie die ondersoek te belemmer nie.
Lees ook: Man vermoor op gasteplaas naby Tonteldoos
’n Inwoner van Tonteldoos, wat gevra het dat sy naam nie genoem word nie, sê dat die moord die gemeenskap baie swaar getref het.
“Die media maak nou asof Tonteldoos ’n onveilige area is. Dit is nie. Maar net soos die res van die land is ons nie kwytgeskel van misdaad nie.”
Inwoners het hul misnoë teenoor die polisie uitgespreek wat blykbaar vinnig op die toneel was maar daarna eerder ’n stok in die wiel as van hulp was.
“Daar was iemand met ’n privaat spoorsny hond op die toneel. Hy kon nie die hond laat soek sonder die polisie se toestemming nie. Die polisie het geweier dat hy die hond uitlaai en gesê hulle wag vir die Honde Eenheid van Burgersfort af. Hulle het nou nog nie opgedaag nie. Intussen het dit gereën en dit is in elk geval so onherbergsaam dat ’n bobbejaan daar met ’n kierie moet loop.”
Die polisie was ook nog nie by die ander misdaadtonele, wat moontlik kan verband hou, om vingerafdrukke te neem nie.
• Johnny Kunneke is in Oktober 2017 deur ’n groep mans in sy huis in die Tonteldoosomgewing oorval. Hulle het hom vasgebind en gewurg met ’n leergordel op soek na “guns and money”.
Lees ook: Bejaarde slagoffer van plaasmoord
Lendi Raphalalani Modileng (28) van Plot 10 Modderspruit, Kabelo Petrus Makua (29) van Phokane in Mokgapaneng, Stimpie Ber Makua (21) van die plaas Phokwane in Stoffberg en Tshepo Makua (30) van Nebo se verhoor het reeds in die Middelburg Streekhof begin.
Die saak is egter al talle maal uitgestel toe eers Modileng en later die Makuas besluit het om hul regshulpprokureur se mandaat te beëindig. Die saak sal hierdie week weer in die hof draai.
• Sarel van der Merwe is September 2014 deur twee mans met ’n stomp voorwerp doodgeslaan. Hy was die opsigter op die plaas Froggy Pond. Papiki Mokwena en Eric Mtombeni is in September 2015 skuldig bevind vir die moord.
• Lappies Labuschagne is in September 2003 vermoor in sy winkel Disselboom in die Tonteldoos omgewing.
• Daar is intussen verneem dat oudspeurder Sakkie Louwrens van Bosveld Misdaadondersoeke hom hierdie week by die ondersoek sal aansluit.
