Skade aan skoolheining was kar wat in reën gly
Inwoners wonder al van gister af wat gebeur het met die muur en palissadeheining van Future Achievers Academy op die hoek van John Magagula- en Wandererslaan.

Oud provinsiale verkeersman, mnr. Henk le Roux, was vroeër vandag by www.mobserver.co.za om sy weergawe te gee van wat hy dink gebeur het.
Hy is van mening dat die persoon met ’n hoë spoed van die brug se kant gekom het en wou links draai in Wandererslaan.
“Hy het dit egter nie gemaak nie en reguit oor gejaag regdeur die muur en palissadeheining!”

Mnr. Le Roux sê hy het navraag gedoen by ’n persoon wat met ’n randsnyer gras gesny het en, volgens die man, het ’n Toyota Avanza deur die muur gery.
Hy was nie verkeerd nie!
By navraag aan mnr. Trevor Langeveld (adjunkhoof, Future Achievers Academy), het hy bevestig dat ’n Toyota Avanza in die skoolmuur vasgery het.
As hy rofweg moet skat, beloop die skade op sowat R20 000, maar hulle wag nog vir kwotasies.
Hy het gemeld dat die eienaar van die voertuig vanoggend by die skool was om te kom sê wat gebeur het en dat hy aangebied het om die muur reg te maak.
“Ons moet egter eers met die eienaars van die eiendom konsulteer, wat so gou as moontlik iemand sal stuur om die muur reg te maak, sodat dit veilig vir die kinders kan wees.”

• Www.mobserver.co.za het die eienaar van die Toyota Avanza, mnr. Edlon Mahole, opgespoor.
Hy het gemeld dat sy broer (hy wou nie sy naam bekend maak nie) die voertuig by hom geleen het “om ’n bietjie geld te maak.” Volgens hom is dit beslis nie ’n taxibesigheid nie, maar net ’n guns wat hy vir mense doen.
Sy broer het klaarblyklik omstreeks 05:45 Saterdag van Midwater Sentrum se kant gekom, waar hy mense afgelaai het.
Mnr. Mahole sê sy broer het vertel dat dit gereën het en sy voertuig op die gladde pad gegly en deur die muur gery het.

“My kar het nie versekering nie en ek het aangebied om self die heining reg te maak, maar die skool sê dit kan blykbaar nie so gedoen word nie. Met die Covid-19 pandemie, het ek ook tans nie werk nie én ek betaal nog my kar.”
• Mnr. Mahole se broer is in die Middelburg Hospitaal behandel vir kop- en borsbeserings en vanoggend ontslaan.
• Op die vraag of mnr. Mahole se broer ’n bestuurderslisensie het, het hy gesê dat sy broer al drie jaar sy lisensie het.

