Diewe haal motorfietse blitsig uitmekaar
Twee motorfietse wat aan die oostekant van Dullstroom gesteel is, is ure later aan die westekant van dié toerismedorpie gevind.
Mnr. Gerhard Delport (buurtwagleier van die Dullstroom Afriforum Buurtwag) sê hul lede het vanaf Vrydagaand dwarsdeur die nag patrollies gery.
Hyself het op daardie stadium ook telefonies hulp verleen na die moord op mnr. Len Pretorius by Bush Boys, op Tonteldoos.
Die twee persone wie se motorfietse gesteel is, was ingeboek by ’n lodge in Dullstroom.
Lede uit die gemeenskap, wat help soek het na die motorfietse, het die twee motorfietse aan die westekant van die dorp, naby die rioolplaas, teruggevind.
Die diewe het die motorfietse vir sowat vier kilometer ver gestoot en dit daarna heeltemal uitmekaar gehaal. Hulle haal dit so professioneel uitmekaar, dat dit lyk of dit in ’n werkswinkel gedoen is!”
Mnr. Delport is dankbaar vir die gemeenskap, wat onder andere ’n hond gebruik het as deel van die soektog, wat hulle gehelp het.
“Dit is die tipiese modus operandi van al die motorfietssindikate wat regdeur Mpumalanga opereer. Hulle stoot die motorfietse tot op ’n plek, waar hulle dit uitmekaar haal, versteek en dan later oplaai en vervoer.” Hy sê hierdie BMW Toermotorfietse is veral hoog op die gewildheidslys vir die sindikate.
