Frankie besteel glo kerk, maar leraar wil steeds help
Frankie Swart, wat homself “Steven Lottering” die afgelope maand genoem het, word daarvan beskuldig dat hy by die Evangelies Gereformeerd Kerk gereedskap en ’n leer gesteel het.
Frankie Swart, wat homself “Steven Lottering” die afgelope maand genoem het, word daarvan beskuldig dat hy by die Evangelies Gereformeerde Kerk gereedskap en ’n leer gesteel het.
Alhoewel ds. Ferdie Devenier ’n klagte van diefstal by die polisie aanhanging gemaak het, wil hy egter steeds vir Frankie, wat hy as “Steven” leer ken het, help.
“Hy is ’n goeie werker en kan letterlik álles doen. As hy nie beïnvloed is deur die jong man wat hom Vrydag by die kerk kwansuis sou gaan help nie, glo ek dat hy nou nog by ons sou gewerk het,” sê ds. Devenier.
Hy was só geimponeer met die werk wat die jong man gedoen het, dat hy Maandag vir hom ’n kontrak vir ten minste R8 000 per maand wou aanbied, maar toe verdwyn hy met die kerk se gereedskap en leer!
“Steven Lottering” het op 1 November by sy huis in Lobeliastraat aangeklop en gevra vir kos. “Hy het gesê hy het ’n vrou en twee kinders.”
Ds. Devenier het vir hom gesê dat hy nie vir hom gaan geld gee nie, maar iets beter gaan aanbied: werk. Hy het vir hom gevra watter tipe werk hy kan doen, waarop “Steven” gesê het hy is goed met motorwerktuigkundige werk.
“Steven was ’n goeie en harde werker! Ek het gesê hy kan 08:00 in die oggende kom, maar hy was al 07:00 daar en het eers teen 18:”00 geloop. Hy het selfs Saterdae ingekom en wou Sondae werk, maar ek het gesê daar word nie Sondae by my gewerk nie. Hy het meganiese én paneelklopwerk op ons voertuie gedoen! Hy kon egter enigiets doen! Hy het my seun leer sweis en selfs loodgieterswerk vir ons gedoen.”
Ds. Devenier het agtergekom “Steven” jok oor sekere goedjies en het met hom oor die Here begin praat. “Hy het gesê hy wil sy lewe regkry.”
Die innemende jong man het in hul harte gekruip en het hy selfs vir hom ’n fiets en paraffienstofie gegee. Die dag toe hy vra waarom hy nie met die fiets kom werk nie, het hy vir hom gesê dat die fiets ’n pap wiel het. “Ek het selfs vir hom ’n fietspomp gegee, maar hy het toe seker klaar die fiets verkoop vir dwelms!”
Ds. Devenier moes ’n begrafnis in Kroonstad gaan doen Vrydag en het hulle besluit om Donderdag al te ry. Op daardie stadium het hy “Steven” en die werk wat hy doen al só vertrou, dat hy vir hom gevra het om die nuwe toilet by die kerk klaar te maak,.
Ds. Devenier het Essential Hardware gebel en gesê dat “Steven” ’n paar artikels gaan kom haal om die toilet klaar te maak, wat hy ook gedoen het. Hy het egter R700 se goedere gevat, waaronder ’n slot, wat beslis nie aangewend is vir die toilet nie!
Met sy terugkeer Sondag het hy die skokontdekking gedoen dat daar artikels by die kerk gesteel is en dat “Steven” skoonveld is.
“Ek het vir hom gesê hy moet ’n handlanger kry om hom te help en hy het klaarblyklik ’n ene Nico Lottering gekry om te kom help. Wat my dronkslaan, is dat die werk wel gedoen is! Die toilet is klaargemaak, maar die kerk se leer en ander gereedskap is gesteel. Ek verstaan Lottering is ook ’n dwelmverslaafde en ek vermoed dat hy hom beïnvloed het!”
Ds. Devenier het intussen verneem dat Steven eintlik Frankie Swart is en ’n dwelmverslaafde is. “Ek is egter bereid om steeds ’n pad met hom te loop. Ek ervaar iets goed in hierdie laaitie.”
Hy het in sy soektog na Frankie, vroeër vandag vir Johan Gouws, nog ’n dwelmverslaafde van Middelburg, raakgeloop en uitgevra oor Frankie. “Ek het vir hom gesê hy moet vir Frankie sê ek is lief vir hom.”

As enigiemand weet waar Frankie hom bevind, bel ds. Devenier by 083 458 7459.
