Die dag toe ek ’n joernalis geword het, amptelik, na vakansiewerk by die Witbank Nuus in September dieselfde jaar.
’n Dag wat Pa nie laat juig het van opgewondenheid nie “want vroue skryf storietjies”, mans werk by die spoorweg, die polisie, die poskantoor of die tronk.
Later kon hy nie sy trots verberg nie.
Die begindae was swaar, hard, met vele trane.
Met net ’n resiesfiets om stories te jaag, moes Pa soms taxi speel.
Ma was die een wat in die nagte wakker gelê het om oop te sluit – geluister het na nog ’n grusame verhaal.
Dit was sy wat twee broeke, twee hemde, twee dasse en ’n leerbaadjie gekoop het met die opdrag: “Jy trek elke dag netjies aan, dit sal wys jy respekteer die mense en dan sal hulle jou respekteer”.
Die eerste oggend het sy my in die rondte laat draai, om te kyk of alles netjies pas en beveel, “trek reg jou das!”
Nou is dit 45 jaar later.
Jy kon aan die grootste universiteit leer, die Universiteit van die Lewe.
Daar is geen groter en beter leerskool nie.
Maar die waardes van ’n ouerhuis, dit is wat my vir 45 jaar staande gehou het in die kookpot van die koerantwese.
Dit, en jy het geweet waar jou hulp vandaan kom…jou hulp is in die naam van die Here wat hemel en aarde geskape het.
Sonder ’n leermeester sou jou pad ’n doolhof gewees het.
Om ’n boksvegknoper as redakteur te hê, was om die minste te sê “uitdagend”. Die Pen, Leonard Neill, het joernalistiek beoefen in sy suiwerste vorm.
Toe ouers kom kla oor probleme op die Witbank High bus van Middelburg na Witbank, het hy Wally Karbe opdrag gegee om skoolklere te kry en saam op die bus te ry.
Toe daar klagtes is oor onheilighede in die begraafplaas het hy gesê “gaan slaap daar”.
Wil ook vandag aan hulle wat my “grootgemaak” het hulde bring. Die Hennie Erasmusse, Brian Clarke, Tonie van Rensburg, Dana Truter, Robert Brandt, Wim Bosman, Pedro Diederichs, Sefako Nyaka, Essop Patel.
Cor Leijenaar van Beeld by wie ek so baie kon leer.
Stigterslid en tans direksielid van die Forum for Community Journalist is ’n loopbaanhoogtepunt.
Dit gebeur nie elke dag dat ’n verbintenis soos met die Pretoria Technikon (TUT) vir soveel jare voortduur nie, sedert 1985. Kosbare verhoudinge is gevorm en ’n verskil kon gemaak word om joernaliste en die bedryf te verbeter.
Die polisiemanne soos kaptein Boning wat stories aangedra het. Die jong konstabels wat in die aande stories uitgeruil het wanneer ons Rum en Coke uit ’n afgesnyde blikkie drink. Weet nou nog nie waarom ons nie sommer uit glase gedrink het nie.
Aanklaer Leon van den Berg wat gebel het met “lekker” stories en toegelaat het dat ek eers die dossier lees, voor die hof begin.
Landdroste Potgieter, Smit, J van R Pietersen en Bertus le Roux wat my verdra het.
Adjudant Uys van die lykshuis wat sy register elke Dinsdagoggend vir my oopgegooi het, al het ek geweier om te help wanneer daar te min hande was om ’n lyk te dra.
Hulde aan ’n gesin wat gely het weens ’n pa se “koerantstatus” en hulle nie daardeur laat onderkry het nie, maar uitgestyg het.
Dit is ’n voorreg om deel te wees van die koerantbroederskap.
Die lys is lank van hulle wat oor die jare saam uit die inkbeker kon drink:
Louis Oelofse, Lizel Steenkamp, Antoinette Nezar, Carien de Klerk, Henriette Engelbrecht, Jan Bezuidenhout, Ilse Cronje, Ingrid Erlank, Buks Viljoen, Wilhelm de Swardt, Julie van Rensburg, Lynn Wilton, Annalet Steenkamp, Jana Boshoff, Daleen Naude, Sjani Campher, Tiisetso Malunga, Fanai Siziba, Jabu Masina, Gerhard Rheeder, Sefako Nyaka, Ilse Debbes, Jeanette McLean, Lynn Siebert, Wally Karbe, Hester Swanepoel…
Van ’n ou Olivette tikmasjien tot die moderne rekenaar, van swart-en-wit fotografie, tot digitale kamera’s, van handfoon na selfoon, dit kon jy alles beleef.
Maar die joernalistiek van Leonard Neill bly vandag se joernalistiek, die waardes van 1975 bly steeds dieselfde waardes…
Wat ’n voorreg om deel te kan wees van ’n beroep wat jou as mens vorm, wat jou hele menswees omvorm – 45 kort jare.
Ongelooflike voorreg.
Dankie Ma, dankie Pa!
Van Oom Koerant.