Man en vrou ‘ken’ kamtig huiseienaar en steel toe selfone
’n Goedgeklede paartjie wat hulle voorgedoen het as mense wat na die huiseienaar soek én boonop ’n boodskap vir hulle geskryf het, het pas selfone uit ’n huis gesteel.
’n Wit Honda het omstreeks 10:25 voor ’n huis in Tabaksbergstraat gestop.

’n Man en vrou het uitgeklim en vir ’n huurder gesê, dat hulle na die huiseienaar soek en selfs die eienaar se naam genoem. Hulle het die huurder oortuig om in te gaan, sodat hulle ’n briefie vir die huiseienaar kan skryf.

Die oomblik toe hulle in die huis is, het die vrou gevra of sy gou die badkamer kan gebruik en het hulle kort daarna vertrek. Met die huiseienaars se tuiskoms, het hulle dadelik besef twee selfone is gesteel.
• Die vrou het ’n ligte groen pakkie en ’n blonde pruik gedra.

• Vroeër jare het diewe, soms twee vroue en ’n man, hul voorgedoen as huiskopers en duisende rande se artikels soos juwele en selfone gesteel. In al die gevalle het een of albei die vroue groot handsakke by hulle gehad en gevra om toilet toe te gaan, terwyl die man of ander vrou die huishulp besig hou. Die gesteelde artikels is altyd in die groot handsakke versteek.
