Man vertel uit ambulans van Kranspoort ongeluk
’n Man, wat saam met sy dogter en haar kêrel pas in ’n ongeluk in Kranspoort was, het uit die ambulans vertel wat gebeur het.
Alhoewel mnr. Tommie Blignaut self ’n hou teen die kop gekry het, was hy meer besorg oor sy dogter en haar kêrel as oor sy eie welstand.
“Ek het verskriklik hoofpyn, maar ek is baie bekommerd oor my dogter wat haar arm gebreek het en haar kêrel wat sy voet gebreek het,” het hy gesê.
Hulle was vanaf Loskopdam se rigting, oppad na De Voetpadkloof, toe die ongeluk in Kranspoort gebeur het.
Mnr. Blignaut sê hy het in die stadige baan gery en in die draai het hy gesien dat ’n enkelkajuit bakkie van agter af kom.
“Hy het om een of ander rede, ek weet nie of hy op sy selfoon besig was nie, sy stuurwiel gedraai gehou en my voertuig vol op die bestuurderskant getref!”
Mnr. Blignaut se voertuig het begin rondswaai oor die pad, waarop die bakkie hom ook agter getref en hom in die versperrings langs die pad ingedruk het. Die bakkie het sowat 20 meter verder eers tot stilstand gekom.
Die ongeluk is vir hom geweldig traumaties.
“Ons was verlede jaar ook in ’n ernstige ongeluk betrokke met ons drie kinders, waarin ek my negejarige dogter verloor het. En nou dit!”
• Die bestuurder van die bakkie het nie beserings opgedoen nie.
• Net ’n ent verder af in Kranspoort het ’n trok ook beheer verloor en in die sandput ingery.
• Die pad is egter oop vir verkeer.
