‘Waarheen gaan ons met ons gestremde seun?’
’n Egpaar hardloop al vir dae rond om ’n plek te kry om na hul gestremde seun te kyk vir die vakansie, maar oral loop hulle in toe deure vas.
Melinda en Barry Botha bly in ’n tweeslaapkamer woonstelletjie saam met hul twee minderjarige dogters.
Hulle het ook ’n seun, wat al vir ’n paar jaar deel is van Bethesda, Huis van Hoop, wat omsien na gestremdes.
Vakansietye is hul deure egter toe vir privaat leerlinge, aangesien die personeel ’n breek vat.
Die Bothas verstaan dit ten volle, maar is paniekerig, omdat hulle albei werk en hul seun voltydse versorging nodig het.
Die seun is 17 jaar oud, het net agt persent sig in sy een oog, kan nie praat nie en is nog op doeke.
“Sy roetine is geweldig belangrik. Hy moet op tyd eet en bad en sy doeke moet ook gereeld geruil word.”
Me. Botha sê hulle het al oral probeer aanklop vir hulp.
“Ons kan nie van ons minderjarige dogters verwag om na hul boetie te kyk nie. Wat doen ons nou? Ons is baie lief vir ons kind, maar ons kan net nie bekostig om op te hou werk en voltyds of selfs gedurende ’n hele Desember na hom te kyk nie. Ons kan dit eenvoudig nie bekostig nie,” het me. Botha met trane in haar oë gesê.
• Hulle vra dat indien enigiemand weet van ’n persoon of ’n versorgingseenheid wat in Desember kan help, om hulle te bel by 073 863 5369 of 078 826 9791.
