Word verlei deur geel varkore en orgideë
Wie sou kon raai dat daar net in Tonteldoos se omgewing unieke veld-orgideë groei en dat daar jaarliks duisende mense soontoe stroom om die geel varkore, wat nou vol in blom staan, te bewonder.
Maar waar is dié plek met sy vreemde naam, waarvan bitter min mense al ooit voorheen gehoor het.
Yvette O’Grady, wie se skoonfamilie al vir ses geslagte op die plaas, Houtenbek in die Tonteldoos omgewing bly, het so bietjie meer vertel.
Volgens oorlewering (en natuurlik baie ander aangelaste stories) kom die naam “Tonteldoos” klaarblyklik daarvan dat ’n landmeter sy tonteldoos, ’n toetstelletjie waarmee vroeër jare vuur gemaak is, in die stroom verloor het.
Tonteldoos is presies 90km vanaf Middelburg op die Stoffbergpad geleë. Sy sê as jy Stoffberg oor ry, moet jy beslis stop by Blinkwater Slaghuis vir ’n stukkie biltong.
Ry jy Dullstroom oor, is die pad 120km lank via die N4, Belfast na Dullstroom en kan jy by Alzu Petroport of op die geskiedkundige Dullstroom stop.
“En moenie probeer om die Tonteldoospad met ’n klein karretjie aan te durf nie, ry maar met ’n bakkie of toegeruste voertuig wat ’n stamperige pad kan hanteer.”
Tonteldoos het ontstaan toe Paul Kruger vir boere grond gegee het wat bereid was om in die Mapochs-oorlog duskant Roossenekal te veg. Baie van hulle was boere wat na die tweede wêreld-oorlog nie in die stad kon oorleef nie.
Daar is tans net ’n paar kommersiële boere in die Tonteldoos-omgewing oor en die res is meer naweekboere- of aftree vakansieplase.
As jy egter die vrye natuur wil beleef, is Tonteldoos die plek en ja, daar is ’n winkel en meer as genoeg gastehuise en lodges wat jou kan akkommodeer.
Me. O’Grady staan aan die stuur van die Houtenrus kothuis, wat op die familieplaas Houtenbek geleë is.
Dan is daar ook die winkel, “Thirsty Walrus”, die “High Side” kuierkroeg, “Bush Boys, “The Cat and Cow” Koffiehuis, “The Pear Trea” waar jy tussen die peerlanings Belgiese bier of koffie en koek kan bestel. Op die Riverman Cabin gasteplaas en restaurant is ’n kapel waar intieme troues gehou kan word.
“High Side” en “Bush Boys” het hande gevat en bied gereeld avontuurritte vir motorfietsryers aan.
Me. O’Grady sê hul fauna en flora is baie gesond en daar is blou kraanvoëls aan die broei, met selfs ’n sekretarisvoël wat ’n mens gereeld sien.
Die geel varkore groei wild tussen die kliprandjies en daar is honderde veld-orgideë in die omgewing.
Die oudhede waardeerder en afslaer, Stephan Welz (op Kersdag in 2015 oorlede) het vir jare in dié omgewing geboer. Sy vrou, Carmen, het juis ’n paar jaar gelede ’n boek saamgestel met nuwe veld-orgideë wat sy in die Tonteldoos omgewing ontdek het en wat waarskynlik net in daardie area voorkom.
• Die bekende oudbrigadier Schalk Broekman (wat in Augustus vanjaar oorlede is), het as kind in Tonteldoos gebly.
• Middelburger Koos Prinsloo vertel vandag nog staaltjies van die dae toe hulle op Kochelmanderkop en Klipvoor in die Tonteldoos omgewing geboer het. Sy suster, Lena Engelbrecht, was desjare posmeester op Tonteldoos. Dit is juis waar sy as jong meisie haar man, At, ontmoet het, want hy moes haar oplei as posmeester.
• Mnr. Mathys Prinsloo het ’n paar foto’s van dié pragtige area geneem, wat hy goedgunstiglik aan www.mobserver.co.za beskikbaar gestel het.
• Besoek gerus die “Tonteldoos Accommodation” Facebookblad vir meer inligting.