News

Legendariese tannie Ems oorlede

Die legendariese manshaarkapster, tannie Ems Reynierse (78) is gisteroggend aan asemhalingsprobleme oorlede.

“Tannie Ems het kilometers van my hare gesny,” is van die boodskappe wat op Facebook geplaas is, nadat almal van haar dood verneem het.

Vele Middelburgers onthou die flinke rooikop tannie Ems agter haar klikkende skêr by Elite Manshaarsalon in die Nedbanksentrum.

Sy was al ’n gekwalifiseerde haarkapper met haar aankoms in Middelburg in 1968 en het eers vier jaar gelede haar skêr finaal neergesit.

Talle ouer Middelburgers sal me. Ems Reynierse só onthou. Op die foto is sy saam met haar seun, Chris, in 1980 afgeneem.

Honderde boodskappe van simpatie en herinneringe is aan die familie gestuur.

Van “sy was ’n ystervrou,” tot “sy het my eerste undercut gesny” en “sy het ál die seuns in Middelburg se hare gesny!” wys hoe geliefd en bekend sy was.

Een boodskap verwoord almal se gevoel. “Tannie Ems het die woord legend na regte gebring.”

’n Onlangse foto van me. Reynierse saam met haar seun, Chris, en kleindogter, Ceana.

Die familie was aangedaan oor die gemeenskap se ondersteuning en al die mooi boodskappe wat almal gestuur het.

“Dit was hoe bemind ons ma was. Sy was nie net ’n ma en ouma vir ons nie, maar vir talle ander mense. Sy het ’n hart van goud gehad. Sy het soveel mense gehelp. Ek weet ook haar saak was reg met die Here,” het haar seun, Chris, gesê.

Hy onthou ook hoe sy tot kort voor haar dood nog in haar tuin gewerk en alles self gedoen het.

Me. Reynierse word oorleef deur haar seuns Chris en Andrew, skoondogters Caroline en Melissa, sewe kleinkinders en agterkleinkinders.

’n Roudiens word Donderdag om 11:00 by die krematorium kapel gehou. Persone wat die diens wil bywoon, moet bevestig met Chris by 083 617 7813.

Me. Reynierse sal onthou word as ’n baie liefdevolle ouma. Die foto is ’n paar jaar gelede van haar en Leandro geneem.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button