News

R10 000 beloning om moordenaars vas te trek

Daar word ’n R10 000 beloning aangebied vir inligting wat die moordenaars van Len Pretorius agter tralies sal laat beland. 

Mnr. Pretorius is Vrydag, 27 November, in die Tonteldoos omgewing geskiet waar hy en sy vrou Joey in ’n rondawel op ’n gasteplaas gebly het.

Volgens inligting het mnr. Pretorius probeer om drie rowers met ’n tas af te weer nadat hulle aan sy rondawelvenster geklop en aangedring het dat hy vir hulle oopmaak. Hy is in die proses in die gesig geskiet en het op die toneel uitgebloei voor mediese hulp hom kon bereik.

Die beloning plakkaat.

Dit het intussen aan die lig gekom dat een van die drie rowers moontlik ’n vrou is.

Die vermoede kom nadat daar die aand voor die moord by ’n ander gasteplaas ingebreek is en spore van die verdagtes gedui het dat een van die inbrekers ’n vrou kon wees.

Die beskrywing van die verdagtes op die aand van die moord, was dat daar een man met ’n bles, een met ’n sweetpakbaadjie met ’n kappie en een persoon met ’n strepieshemp betrokke was.

Lees ook: Vrou dalk betrokke by moord

Drie persone wat die beskrywing pas is later by ’n winkel in die omgewing opgemerk. Die persoon met die strepieshemp was ’n vrou. Die aand na die moord was daar probleme op ’n plaas in die Roossenekal omgewing, aangrensend aan Tonteldoos, waar plaaswerkers hospitaal toe vervoer moes word met messteekwonde.

Dieselfde drie verdagtes, waarvan een ’n vrou was, word ook aan dié voorval verbind.

Lees ook: Naweek se moord was nie die eerste op Tonteldoos nie

Sakkie Louwrens, van Bosveld Misdaadondersoeke, maak deel uit van die ondersoekspan. Mnr. Louwrens is ’n gesoute speurder wat sy tande in die polisie se ernstige en geweldsmisdaadeenheid geslyp het.

Hy is geen groentjie as dit kom by veral plaasmoord-ondersoeke nie.

Inligting dui daarop dat die rowers met die area bekend is omdat hul teikens afgeleë en in ’n onherbergsame omgewing is.

Lees ook: Man vermoor op gasteplaas naby Tonteldoos

Enige iemand wat inligting het wat moontlik kan help met die ondersoek kan vir Sakkie Louwrens 071 798 7954 of Johan 082 896 5331 bel. Alle inligting sal vertroulik hanteer word.

Behou só kontak met ons:

• Het jy ’n nuuswenk? Stuur vir ons ’n e-pos na tobie@mobserver.co.za of kontak ’n joernalis op ons bystandnommer 072 248 3855.

• Vir plaaslike en nasionale nuus volg ons op Facebook • Vir interaktiewe gesels en inligting met ons lesers sluit aan by ons Facebook groep.

• Vir plaaslike nuus en nuusflitse sluit aan by ons WhatsApp groep (lede kan nie op die groep kommunikeer nie en sal slegs nuusskakels ontvang.)

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Jana Boshoff

Jana works as a senior support specialist for Caxton digital. Before that she was a journalist at the Middelburg Observer 15 years where she won numerous awards including Sanlam's Up and Coming Journalist, Caxton Multimedia Journalist of the Year, and several investigative awards. She is passionate about people and the stories untold.
Back to top button