Laat die regstelsel mishandelde vroue en kinders in die steek?
Is ons regstelsel blind vir wat regtig agter toe deure in huise aangaan?
Kokkie Smit voel dat die regstelsel vroue in die steek laat.
“Is hulle blind vir die nood van Tamar?” (Tamar is die jong vrou, volgens 2 Samuel 13), wat verkrag is, maar in die steek gelaat is deur almal wat wel daarvan geweet het).
“Almal weet wat werklik aangaan, die prokureurs…die maatskaplike werkers…hulle sien dit, maar laat dit maar toe. Die vroue voel die stelsel gebruik dit om die mishandeling voort te sit.”
Hy het ware verhale vertel waar maatskaplike werkers en prokureurs deur die narsistiese mans gemanipuleer is.
“Dit gaan nie werklik vir daardie narsistiese pa’s en die stelsel meer oor die kinders nie. ’n Pa het sy kind se hond met ’n graaf doodgeslaan, maar hy vertel vir die maatskaplike werker net dat hy verander het en dit word aanvaar! Hoe veilig is die kind dan in hierdie geval? Gaan die geweld maar net voortgaan?”
Dan is daar die mans wat geld het om prokureurs en advokate te betaal, maar baklei in die hof om nie onderhoud vir sy kinders te betaal nie, sodat baie van hierdie vroue teruggaan na die geweld in die huis.
“Die vroue voel gefrustreerd, want waar gaan hulle heen as die hele regstelsel hulle faal. Waar is Tamar (elke slagoffer) se hoop?”
