News

Boete-storm broei

Daar broei weer ’n storm in die munisipale wetstoepassingseenheid met magsmisbruik wat oral deur die dorp aangemeld word.

Gesiene sakeman, mnr. Barrie Viviers, sê dat hy self aanskou het hoe wetstoepassers minstens vier inwoners op die hoeke Slegtkamp en Hoogstraat beboet, omdat hulle oor die sperstreep by die stopstrate gerol het om te kyk vir aankomende verkeer.

Daar is net een reuse probleem, daar is níé sperstrepe by enige van dié vierrigtingstop se stoptekens op geverf nie.

Mnr. Viviers sê dat boetes van R2 000 eenvoudig vir die protesterende motoriste se hande gedruk is, ten spyte daarvan dat die padtekens wat die motoriste na bewering verontagsaam het, nie deur die munisipaliteit aangebring is nie.

“Die een munisipale hand beboet inwoners vir ’n plig wat die ander munisipale hand versuim het,” sê mnr. Viviers.

’n Joernalis van www.mobserver.co.za het ook gesien hoe minstens sewe wetstoepassers met loeiende sirenes na ’n informele grasverkoper naby Midwater Sentrum ry en hom omring.

“Dit was belaglik, totale magsvertoon, en onnodig,” het ’n ooggetuie wat by die verkeerslig gewag het, gesê.

Die koerant het berig oor boetes wat uitgereik is vir inwoners by die Dennesig stortingsterrein.

Een van die boetes is uitgereik aan me. Menette Benadie wat wettiglik haar tuinrommel gaan weggooi het. Personeel daar het versuim om haar registrasienommer met die inry daar te neem, wat tot die boete gelei het.

Mnr. Bennie Verster, wat aangesê is om die R2 000 boete kontant te betaal, sê dat sy personeel met bourommel deur personeel by die stortingsterrein weg gewys is, en aangesê is om te gaan aflaai waar hulle eindelaaste beboet is.

“Mens wonder of daai gerug van wetstoepassers wat hul eie bonusse moet verdien, waar is,” sê mnr. Verster.

• Me. Prudence Magutle, kommunikasiehoof van die munisipaliteit, sê dat daar twee opsies oop is vir inwoners om boetes te betwis.

“Inwoners kan die departementshoof gaan sien en die saak probeer beredder, of as sake nie so opgelos kan word nie, hulself tot die hof wend om die boetes tee te staan, omdat die boetes met ’n hofdatum uitgereik word,” sê sy.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Gerhard Rheeder

I have been a journalist for two decades, with numerous awards to my credit, both in photography and writing. A brief stint as researcher in the opposition offices of the Mpumalanga Provincial Legislature, honed my skills as specialist local government reporter, covering crime and courts.
Back to top button