Seun sterf soos pa in motorfietsongeluk
Die dood van die geliefde Frikkie Steynberg (30) in ’n motorfietsongeluk Saterdag op die Stoffbergpad, kom as ’n groot skok vir sy familie en mede motorfietsryers. “Ons pa, Frikkie, was net so oud soos Frikkie (jnr) toe hy in 1999 op Oukersdag in ’n motorfietsongeluk op Tzaneen dood is. Ons ma, Annemarie, het in 2013 …

Die dood van die geliefde Frikkie Steynberg (30) in ’n motorfietsongeluk Saterdag op die Stoffbergpad, kom as ’n groot skok vir sy familie en mede motorfietsryers.

“Ons pa, Frikkie, was net so oud soos Frikkie (jnr) toe hy in 1999 op Oukersdag in ’n motorfietsongeluk op Tzaneen dood is. Ons ma, Annemarie, het in 2013 in ’n motorongeluk net ’n klein entjie verder van waar Frikkie oorlede is, in ’n motorongeluk op die Stoffbergpad gesterf,” het Frikkie se suster, Marié, hartseer gesê.
Die ongeluk het omstreeks 17:00 naby die ingang van die plaas waar die gereelde Farm Jam Veldmotorfiets wedrenne gehou word gebeur, sowat nege kilometer buite Middelburg. Mnr. Steynberg het met ’n blou VW Polo gebots.

Sy vrou, Sylvia, sê hulle weet nog nie presies hoekom Frikkie op die Stoffbergpad was nie. Die familie vermoed hy het sy motorfiets gaan uittoets en met die terugkomslag het die ongeluk gebeur. Hy het Vrydag vir een van sy susters gesê dat hy werk aan sy motorfiets en dan die motorfiets moet gaan toets.
Me. Steynberg vertel dat sy en Frikkie saam in Laerskool Staatspresident C.R. Swart was en daarna in HTS Middelburg. Hulle is in 2015 getroud. “Frikkie was só lief vir sy kinders. Hoe gaan ek vir hulle sê hul pappa is dood? Frikkie het elke dag geleef asof dit sy laaste dag was. Hy was spontaan en baie geliefd by almal. Mense sê altyd, ‘jy leef net eenmaal’, maar ’n mens leef elke dag, jy gaan net eenmaal dood. Frikkie het só geleef, hy het elke dag geniet.”


Marié sê haar broer was altyd daar vir almal. “Hy sou sy laaste gee om iemand te help.”

• Mnr. Steynberg was lid van die Immortal Guardians Motorfietsklub op Middelburg. Klubpresident Ivan Wessels sê sy dood is ’n groot verlies vir die motorfietsgemeenskap. Hulle het besluit om later in die week ’n kruis op te sit op die plek waar hy in die ongeluk gesterf het.
Mnr. Steynberg het die afgelope ruk by Mega Isanda Services (voorheen Mega Propshaft) gewerk. Hy word oorleef deur sy vrou, Sylvia, kinders Nicole (8), Jessy-Leigh (8), JJ (5) en Katelynn (3), broer Johan en susters Suzette, Rozanne en Marié.
Mnr Steynberg se begrafnis is Woensdag, 23 Desember om 15:00 by die begrafplaas se kapel.
