Covid eis bekende rugby administrateur
Een van Mpumalanga se bekende rugby administrateurs is weens Covid-19 komplikasies oorlede.
Mnr. Ockie Faul (74) was van eMalahleni tot Nelspruit bekend vir die werk wat hy op rugbygebied gedoen het.
Hy het vroeër jare vir Eskom by Duvha gewerk en was in die tagtigerjare saam met sy broer, John, aktief betrokke by die Witbank Kommando waar John die bevelvoerder was.
Tydens sy verblyf op Witbank was hy reeds by die Elektrapark Rugbyklub betrokke.
Nadat hy en sy vrou, Tillie, na Lydenburg verhuis het, was hy voorsitter van Lydenburg Rugbyklub, lid van die Laeveldse Rugby Unie se bestuur en ook lid van Mpumalanga Rugby Unie se presidentsraad.
Sy joviale persoonlikheid het hom gewild gemaak as spanbestuurder van verskeie spanne in die Mpumalanga rugby strukture.
Hy het later na Carolina verhuis, maar die laaste net meer as ’n jaar by sy dogter, Lanie Coetzer, op Richardsbaai gewoon. Lanie en haar man, Thinus, het albei Covid opgedoen en mnr. Faul het ook later positief getoets vir die virus.
Die oggend van sy dood het hy vir sy vrou gevra om vir hom koffie te maak en hy het in ’n stoel gaan sit waar hy later dood aangetref is weens hartkomplikasies as gevolg van die Covid virus.
Mnr. Faul gaan veras word en ’n roudiens sal waarskynlik later op Carolina vir hom gehou word. Hy laat drie kinders, agt kleinkinders en een agterkleinkind agter.
•Me. Faul sterk tuis aan nadat sy geval het.
