Covid eis geliefde Middie onderwyser
’n Geliefde onderwyser van Hoërskool Middelburg is gisteraand in die Life Midmed hospitaal aan Covid-19 verwante komplikasies oorlede.
Jacques Ferreira (60) se vriende sê dat hulle hom ’n paar dae gelede laat opneem het in die hospitaal nadat hy positief getoets het vir Covid-19 en sy toestand versleg het.
Hy het voor die toets gedink dit is sy bloedsuikervlakke wat hom siek maak omdat hy ’n diabeet was en die simptome baie dieselfde was. Vriende en familie is laasnag net na 22:00 in kennis gestel dat hy gesterf het.
Mnr. Ferreira se afsterwe laat ’n groot leemte in die onderwys gemeenskap asook in sy vriendekring agter. Sy boesemvriendin, Mandi van der Ryst, het hom “as haar skouer om op te huil en haar steunpilaar” beskryf.
“Vir 15 jaar was hy net altyd daar vir my, of dit nou vir lekker lag of lekker huil was,” sê sy.
Sy sê dat mnr. Ferreira iemand was wat uitgestaan het oral waar hy betrokke was.
“Hy was entoesiasties oor dinge. Hy sou voorstelle en veranderinge maak. As hy êrens was het almal geweet hy is daar.
“Hy het altyd vir my vertel dat as hy eendag ryk is, hy vir homself ’n Bentley gaan koop. Hy het ook altyd daarvan gehou om sy kar te reverse park. Ek wil net vir almal sê, julle hoef nie bekommerd te wees nie, Jacques is tans besig om sy Bentley te reverse park in die hemel,” het ’n hartseer me. Van der Ryst gesê.
Die hoof van Hoërskool Middelburg, mnr. Johan Stronkhorst, het gesê mnr. Ferreira was ’n toegewyde onderwyser wat sy lewe gewy het aan die kinders, sy skool en sy vak.
“Jy het hom nie ontmoet en hom nie onthou nie, hy was ’n unieke mens,” het mnr. Stronkhorst gesê.
Mnr. Ferreira was sedert 1992 hoof van die Engelse Departement by die skool en vir 20 jaar hoofmerker vir Engels in Mpumalanga. Hy het ook op die nasionale paneel gedien.
Twee van die joernaliste by www.mobserver.co.za, Gerhard Rheeder en Jana Boshoff, is ook as hoërskoolleerlinge onder mnr. Ferreira se hande deur.
Oudleerlinge wat graag huldeblyke of net ’n “onthou storie” wil bydra kan dit stuur na tobie@mobserver.co.za.
Daar is op hierdie tydstip nog nie begrafnisreëlings nie.
