Jarelange inwoner, Leona Bartle, in KZN oorlede
Beide mnr. en mev. Bartle was met vakansie in Ramsgate waar hulle positief getoets het vir Covid-19.
’n Jarelange inwoner van Middelburg, me. Leona Bartle wat saam haar man Martin in Kranspoort gewoon het, is op 31 Desember in ’n privaat hospitaal in Durban oorlede.
Beide mnr. en mev. Bartle was met vakansie in Ramsgate waar hulle positief getoets het vir Covid-19.
Mev. Bartle se simptome was egter baie erger omdat sy reeds longontsteking gehad het. Sy is middel Desember in die hospitaal opgeneem en was kort voor haar dood op 31 Desember, op ’n ventilator.
Mnr. Bartle het intussen herstel. Die egpaar het die afgelope drie jaar tussen Gaborone, waar mnr. Bartle in die mynbedryf gewerk het, en Kranspoort gependel.
Hulle was kort voor hul vertrek kus toe ook op Kranspoort waar hul seun, die bekende rugbyspeler, Grant Bartle, tans uitspan.
’n Gedenkdiens sou volgende week vir mev. Bartle by die Kranspoort Vakansiedorp kerkkapel gehou word, maar die predikant is ook intussen positief vir Covid-19 getoets.
Derhalwe, sê mev. Bartle se dogter Luné, sal daar in die nabye toekoms net ’n virtuele gedenkdiens gehou word. Die diens sal op YouTube uitgesaai word. Daar is egter nog nie ’n datum vasgestel vir die uitsending nie.
Die gesin bedank graag die gemeenskap, familie en vriende vir hul ondersteuning, oproepe, boodskappe en gebede.
Mev. Bartle, wat vir jare as sekretaresse in die Nasionale Party kantore in Middelburg gewerk het, laat haar man Martin, dogter Luné, seun Grant, skoonseun Hendri en kleinkinders Zian en Ilané, agter.
