Veemedisyne vlieg van besighede se rakke
Marius van Rensburg van Obaro sê dat hulle met dieselfde probleem sit. Hulle het nou verkope van die medisyne aan die algemene publiek gestaak. Hy het ook bevestig dat die verskaffer tans nie voorraad het nie.

Bewerings dat Ivermectin ingespan kan word teen Covid-19, gepaard met die feit dat inentings teen die gevreesde pandemie nie tans vir Suid-Afrikaners beskikbaar is nie, het Ivomec veemedisyne van plaaslike rakke laat vlieg. Ruan van der Merwe by Afgri sê dat hulle nog Ivomec Gold het, maar dat mense die Ivomec Super en Ivomec 1% opgekoop het.
Hulle is oorval deur mense wat die veemedisyne kom opkoop het. Hy het probeer bestel sodat daar voorraad vir boere is, wat die medisyne vir hul diere nodig het, maar die verskaffer het nie tans beskikbaar nie. Marius van Rensburg van Obaro sê dat hulle met dieselfde probleem sit. Hulle het nou verkope van die medisyne aan die algemene publiek gestaak. Hy het ook bevestig dat die verskaffer tans nie voorraad het nie.
Die Middelburg Diere Hospitaal sê dat hulle oorval word deur oproepe en besoekers op soek na Ivomec maar dat hulle ook net Ivomec Gold oor het. Rolspelers het hul kommer uitgespreek omdat Ivomec binnekort nie meer vir boere beskikbaar gaan wees nie weens die reuse aanvraag daarna.
Die veemedisyne word as ontwurmingsmiddel en parasietdoder gebruik. Ivomec Super word ook teen lewerslak gebruik. Talle boodskappe oor Ivermectin, wat in die 1970’s deur ’n Japanese professor ontdek is, se doeltreffendheid teen Covid-19 doen die rondte.
Op sosiale media is daar talle videos wat demonstreer hoe jy die veemedisyne, wat in diere ingespuit word, mondelings moet inneem om jou teen Covid-19 te beskerm. Sommige beweer dat jy dit voorkomend moet neem, terwyl ander van mening is dat jy dit eers moet begin gebruik as jy klaar siek is.
Maar behalwe vir Ivermectin, wat kom nog in Ivomec 1% veemedisyne voor? Volgens scahealth.com is daar Glycerol Formal en Propylene Glycol in. Glycerol Formal is van plantaardige oorsprong en word as draer middel in veemedisyne gebruik. Ander gebruike sluit in vir menslike medisyne, smering in masjienerie, bestandeel in teenvriesmiddels (antifreeze), verf, asook in die tabak en die leerlooiery industrie.
Propylene Glycol is ’n sintetiese middel wat in dieselfde groep as alkohol geklassifiseer word. Dit word in kos gebruik vir die middel se vermoë om vog te bewaar en is in beide die VSA en Europa as veilig vir menslike gebruik bestempel. Sommige mense is egter skepties hieroor omdat dit ook in teenvriesingsmiddels vir masjienerie gebruik word weens sy lae vriespunt.
Die Suid-Afrikaanse Reguleringsowerheid vir Gesondheidsprodukte het gewaarsku dat Ivermectin nie goedgekeur is vir menslike gebruik nie en dat daar geen kliniese bewyse is dat dit effektief is teen Covid-19 nie. Hulle waarsku in ’n persverklaring dat die gebruik daarvan tot ernstige siekte of selfs dood kan lei. ’n Plaaslike afgetrede algemene praktisyn, wat gevra het dat sy naam nie genoem word nie, sê dat hy Ivomec gebruik en dat hy dit vir sy familie aanbeveel. Hy sê egter dat dit elke persoon se eie keuse bly om self te besluit of hulle die risiko wil loop om veemedisyne te gebruik of nie.
“Dit is net ’n ekstra voorsorgmaatreël en moenie veroorsaak dat mense dink hulle kan nie siek word nie. Mense moenie roekeloos wees nie,” het hy gesê. ’n Bron in veeartseny kringe sê dat hulle streng gewaarsku is deur die Vetinêreraad teen die gebruik van Ivomec vir menslike gebruik. Hy sê dat Ivermectin nie in Suid-Afrika geregistreer is vir menslike gebruik nie maar wel in ander Afrika lande asook in die VSA.
Die bron sê dat daar bewyse is dat dit die viruslading in ’n liggaam verlaag maar dat daar nog nie groot genoeg groepe mense getoets is om dit deur die mediese raad goedgekeur te kry nie. Hy het ook bevestig dat Ivermectin 1% in die land uitverkoop is. “Ek sou dit nie voorkomend drink nie, maar as ek siek word sal ek beslis daarvan drink,” het die bron gesê.
