Inbrekers slaan toe tydens beurtkrag
Die polisie ondersoek ’n saak van huisroof nadat ’n onbekende aantal inbrekers vanoggend kort voor 02:00, tydens beurtkrag, by We Repair in Oribistraat ingebreek het.

Die besigheid behoort aan mnr. Anthony Boucher wat We Repair van sy huis in Kanonkop af bedryf.
Hy sê dat hy net voor 02:00 deur sy vrou wakker gemaak is.
“Dit was stikdonker en ek het deur die huis gestap om te kyk of ek iets kan sien,” sê mnr. Boucher.
Die werkskamer waaruit hy die besigheid bedryf is die laaste kamer in die huis en toe mnr. Boucher die deur oomaak om in te loer, het hy ’n donker figuur gewaar wat skielik op hom afgestorm het.

Hy het onmiddellik die deur toegeklap en die handvatsel met al sy krag opforseer.
Hy sê dat die inbreker aan die anderkant van die deur ongeveer ’n minuut lank probeer het om dit oop te kry.
“Hy het ook teen die deur geskop en geslaan,” sê mnr. Boucher.
Intussen het sy vrou die GPF geskakel wat ongeveer tien minute later opgedaag het.
Mnr. Boucher sê hy het eers die deur gelos nadat die GPF opgedaag en die toneel beveilig het.
’n Totaal van 14 skootrekenaars, ’n aantal Playstations en XBoxes en selfone is gesteel.
Twaalf van die skootrekenaars sou eersdaags by ’n skool afgelewer word.
Mnr. Boucher sê dat hulle ook gevlug het met R7000 kontant.

“Hulle moes met ’n voertuig gekom het om al die buit weg te ry,” sê hy.
In die erf is daar later van die Playstations en Xboxes opgetel.
Die boewe het toegang tot die huis deur ’n venster van die werkskamer verkry, daarna het hulle bloot die skuifdeur en traliehek oopgemaak en maklik op die vlug geslaan.

Mnr. Boucher vesoek dat pandjieswinkels en ander besighede waar die skootrekenaars moontlik van die hand gesit kan word, hom asseblief skakel indien verdagte mense met skootrekenaars opdaag.
Hy bied ’n beloning aan vir inligting wat kan lei tot arrestasies en terugkry van sy eiendom.
Hy kan geskakel word by 071 133 1961.
