Covid eis geliefde afrigter
Een van die beste middelafstand atletiekafrigters wat Middelburg nog opgelewer het, is aan Covidverwante oorsake oorlede.
Die gewese HTS Middelburg onderwyser, mnr. Basie Botha (77), is Saterdag oorlede.
Hy het in sy loopbaan verskeie kampioene onder sy hande geneem of atlete waarvan daar min verwagtinge was tot groot hoogtes afgerig.
Sy dogter, Henriette van der Merwe, sê dat haar pa al in 1977 by Hoërskool Gerrit Maritz begin afrig het.
Hy het by Hoërskool Ellisras afgetree.
Boodskappe van sy oudatlete het die afgelope week op sosiale media ingestroom vir die geliefde afrigter.
Mnr. Botha was in die intensiewe sorgeenheid aan ’n ventilator gekoppel voordat hy Saterdag om 10:00 oorlede is.
Die begrafnis word vir Vrydag in Pretoria beplan, maar finale reëlings moet nog gefinaliseer word.
